Charlotte Gericke, NHS se eie ystervrou

Charlotte Gericke, NHS se eie ystervrou

Op die oog af lyk dit of juffrou Charlotte Gericke maar net nog ‘n onderwyser is wat baie bedrywig is in die klaskamer en boonop nog hard oefen saam met die CTM Black Sticks. As jy egter haar vier blink medaljes sien, weet jy sommer dat dié juffrou baie meer as net ‘n onderwyseres is.
Juffrou Gericke spog met drie medaljes wat sy gedurende die jaar by verskillende byeenkomste ontvang het. Die eerste medalje het sy ontvang toe sy die halwe Ysterman in Oos-London in 7 uur en 15 minute voltooi het. “Aanvanklik wou ek net die halwe ysterman doen. Toe wou ek net bitter graag die volledige ysterman voltooi en daarna het ek ‘n beter tyd en die reeksmedalje gejaag! Maar bo dit alles wou ek dit regtig net geniet het, want ek was nog altyd lief daarvoor om aktief te wees!”

Na afloop van die halwe Ysterman ontmoet sy vir Xolani Luvuno wat met een been en krukke die kompetisie voltooi het. Hy en sy mentor, Hein Venter, het Charlotte vertel dat hulle hard oefen om die Ysterman in April aan te pak. Sy het toe besef dat sy geen verskoning het om dit nie ook te probeer nie.
Met net nog 8 weke voor die groot byeenkoms was sy gedetermineerd, het hard geoefen en het baie ondersteuning van haar familie en vriende gehad. Sy het 5 April saam met haar IronFAN (ondersteunende niggie) na Port Elizabeth vertrek en op 7 April voltooi sy die vol Ysterman in 14 uur en 13 minute.
“Die hoogtepunt was om na 14 uur oor daardie rooi tapyt te hardloop en te hoor: ‘You are an Ironman.’ ‘n Verdere hoogtepunt was dat my ouers my kon vergesel het asook om dit met goeie vriende te kon deel!”

Maar dit is ook toe nie waar dit eindig nie. Die 2de Junie voltooi sy die halwe Ysterman in Durban in net 6 uur en 25 minute. Sy verbeter haar tyd met 50 minute! Nie net ontvang sy haar derde medalje nie, maar ook ‘n reeksmedalje omdat sy die SA Ysterman – twee halwe ystermanne (Oos-London en Durban) en Ysterman (Port-Elizabeth) in een seisoen (Januarie-Junie) voltooi het. Die halwe Ysterman is 1,8km swem (in die see) gevolg deur 90km fietsry en 21km hardloop. Die vol Ysterman is 3,8km swem (see), 180km fietsry en 42km hardloop.

“Dit is ‘n ongelooflike prestasie! Om dit te kon doen met ‘n baie besige skoolprogram, waar sy nie net in die klaskamer, maar ook op die veld betrokke is, wil gedoen word,” sê mnr. Sybrand Viviers, adjunkhoof Buite-Kurrikulêr. Charlotte sê as jy die Ysterman wil aanpak moet jy nie huiwer nie, doen dit net! Jy moet dadelik begin om pligsgetrou te oefen. “Ek was maar een van duisende wat jaarliks deelneem en klaarmaak, wat is jóú verskoning?”
Haar oefenprogram het voor skool afgeskop wanneer sy saam met verskeie groepe gaan draf het. Sy het so gereeld as wat sy kon in die Longmere dam gaan swem. Naweke het sy en vriende ook vir lang fietsritte gegaan. Charlotte reken dat sukses vir elkeen ‘n ander betekenis het, maar vir haar is dit net om voluit te leef en elke avontuur aan te gryp, dan is die een keer se leef meer as genoeg.

Dit is dan nou ook nie vreemd om te hoor dat sy alreeds die volgende groot avontuur in haar visier het nie. Sy gaan saam met ‘n paar vriendinne in Oktober aan ‘n “multi stage offroad triathlon” (drie driekampe in drie dae) by die Theewaterskloofdam in die Kaap deelneem.
Sy wil ook graag die Ystermanreeks weer voltooi. “Wie weet miskien swem, fiets of hardloop ek hop