Dié jong NHS hokkie-skeidsregter droom groot

Dié jong NHS hokkie-skeidsregter droom groot

Die jaarlikse Uplands Penryn Derby is vir vele ‘n hoogtepunt op die sosiale kalender. Vanjaar was geen uitsondering nie, veral nie vir NHS se Strelza van Aardt nie.
Sy het die geleentheid gekry om saam met die bekende skeidsregter, John Wright, die eerste seunshokkiespan se wedstryd te skeidsreg. John Wright is een van vier skeidsregters in die wêreld om meer as tweehonderd wedstryde, drie Wêreldbeker en vyf Olimpiese finale te skeidsreg. Na die aankondiging van sy uittrede van internasionale hokkie-skeidsregting einde 2017 is hy aangewys as die Internasionale hokkieskeidsregter vir 2017.
Strelza het twee jaar gelede as hokkie skeidsregter begin en het reeds haar vlak 2 skeidsregting verwerf. Sy is tans die jongste skeidsregter in die streek. Sy het verlede jaar die 0/18 dogters A-seksie finaal by die interprovinsiale hokkietoernooi in Pietermaritzburg geskeidsreg. Sy was hierdie jaar ook betrokke by die 0/21 IPT’s in Johannesburg en het die semifinale wedstryd behartig.
Die oomblik toe sy uiteindelik vir mnr. John Wright kon ontmoet en saam met hom as skeidsregter in die belangrike wedstryd kon optree, was besonder spesiaal. “Dit was ‘n oorweldigende oomblik om hom te ontmoet. Ek het glad nie gevoel dat ek baie jonger of minder ervare was nie. Hy het my ook baie wenke gegee,” sê Strelza.
Dié graad 11-leerder is ook ‘n lid van die skool se eerste dogtershokkiespan, die Black Sticks.
“My droom is om ook eendag as ‘n internasionale skeidsregter by ‘n Wêreldbeker of Olimpiese spele te kan blaas.”
Met soveel ondervinding en doelgerigdheid is daar nog baie groot wedstryde wat vir die passievolle skeidsregter wink.