Nuwe seisoen wink vir Mnr. Kobus Hartman

Nuwe seisoen wink vir Mnr. Kobus Hartman

Mnr. Kobus Hartman, adjunkhoof en koshuisvader van Huis Maré groet NHS en die Laeveld. Hy gaan vanaf 15 Januarie 2020 die leisels oorneem as skoolhoof van Boland Landbou, in die Paarl.

Die aanstelling kom dae voor die skool sluit, wat die Nellies nie ‘n kans gee om hom behoorlik te groet nie.

Mnr. Hartman is sedert 2001 ‘n Nellie in murg en been. Gedurende sy 18 jaar by die skool was hy betrokke by sport, akademie, kultuur, alumni en bemarking. In sy hoedanigheid as Adjunkhoof Bemarking het hy nie net die splinternuwe Bemarkingsburo by NHS gevestig nie, maar die korporatiewe beeld van NHS uitgebou tot ‘n entiteit wat landswyd herken word.

Sy belangstellings strek wyd en ver – vanaf die kunste tot Stormer-rugby. Hy is passievol oor die onderwys en het groot uitdagings aangedurf. Die gemeenskap by Boland Landbou is bevoorreg om ‘n mens van die kaliber van Kobus Hartman in hulle midde te ontvang.

Mnr. Hartman, ons weet dat jy ‘n sukses van dié volgende uitdaging in jou loopbaan sal maak, want jy wandel in die Lig en jy het Nellie Guts.