
10 Sep Agter die skerms met fotodag
‘n Fotodag by Hoërskool Nelspruit is gewoonlik ‘n tamaai miernes van bedrywighede. Verskeie sportspanne, kultuurgroepe, koshuisgange en ander groepfoto’s word op hierdie dag afgeneem.
2020 het egter unieke uitdagings aan die skool gestel wat die beplanning van die jaarblad en fotodag beïnvloed het. NHS se topbestuur en mnr. Hennie Homann van HH Photography & Design het koppe bymekaar gesit en uiteindelik met ‘n plan vorendag gekom om ook vanjaar in die anale van die verlede te verewig.
HH Photography & Design het individuele foto’s van elke sportdeelnemer in hulle spandrag geneem. Hierdie foto’s is op ‘n unieke wyse in spanverband saamgestel. Dié foto’s kan binnekort teen slegs R50 vir ‘n A5-foto by die skool bestel word.
Daar word ook hard gewerk aan vanjaar se fotoblad. Spesiale oomblikke voor Covid-19 asook die nuwe “normaal” van dinge doen gaan in die unieke fotoblad uitgebeeld word. Die spogblad gaan aan die einde van die jaar digitaal beskikbaar wees.
Ondernemings en ouers, veral van graad 12-leerders, word versoek om ‘n bladsy in die 2020-jaarblad te borg. Die koste aan so ‘n borgskap beloop R600 per bladsy en word onderaan die bladsy aangedui. Die sperdatum hiervoor is 25 September.
Indien u graag ‘n bladsy wil borg, e-pos asseblief vir me. Janine Cronje vir die inbetalingsbesonderhede.