Al die vakke voorgeskryf vir KABV word aangebied: Afrikaanse Huistaal, Engelse Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe, Tegnologie, Kuns en Kultuur en Lewensoriëntering. Siswati word as nie-eksamenvak aangebied.
Elke leerder het vier verpligte vakke: Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Lewensoriëntering en Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid.
Naas die verpligte vakke en een van die wiskundekeuses, soos bo genoem, moet leerders ‘n verdere drie vakke uit die volgende kies:
Rekeningkunde, Geografie, Besigheidstudies, Gasvryheidsbestuur, Ingenieursgrafika en -Ontwerp, Rekenaartoepassingstegnologie, Inligtingstegnologie, Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe, Toerisme en Ontwerp.
Deur die loop van die jaar word spesiale Afrikaanse spreektaalklasse vir leerders wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, aangebied. Vakonderwysers in Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid kan leerders verwys vir naskoolse Wiskundeklasse wat gratis aangebied word deur die Wiskunde departement.
‘n Verpligte leeslaboratoriumperiode is vir graad 8 en 9 leerders ingeruim. Die leeslaboratorium is verder gratis vir die leerders se gebruik na skool beskikbaar.
Tydens die Julie-vakansie word daar vir graad 12 leerders ‘n winterskool in sekere vakke aangebied. Hier word gefokus op hersiening en omskep van bestaande kennis om elke leerling goed voor te berei vir die rekord- en eindeksamen.
Alle leerders skryf aan die einde van die tweede en vierde kwartaal ‘n volledige eksamen. Matrikulante skryf ’n rekordeksamen aan die einde van die derde kwartaal.
Leerders skryf meestal Dinsdae en Donderdae, volgens ’n vasgestelde rooster, ’n mini-eksamen. So word leerders aangemoedig om dwarsdeur die jaar ’n konstante studiepatroon te volg.
‘n Jaarpunt word bereken met die uitslae van drie deurlopende assesserings, tesame met die eksamens. Na elke siklus en eksamen ontvang ouers ’n rapport van die leerder se vordering. Punte is ook op die webwerf, skakel SASPAC GLOBAL, beskikbaar.
By graad 8 en 9 tel die jaarpunt en die finale eksamen in die verhouding 40:60. By graad 10,11 en 12 tel die jaarpunt en die finale eksamen in die verhouding 25:75.
Alhoewel tegnologie nie ‘n onderwyser kan vervang nie, is dit ‘n uiters belangrike hulpmiddel en beskik elke klaskamer oor ‘n rekenaar met volle internettoegang en ‘n dataprojektor wat die kurrikulum visueel in volkleur vertoon.
Graad 8 en graad 12 oueraande word in die eerste kwartaal gehou. Gedurende September vind die oueraand vir graad 9’s plaas. Daar word ook in Mei inligtingsaande vir graad 7’s gehou.
Onderhoude kan in kantoorure per afspraak met die hoof, adjunkhoofde en departementshoofde gereël word.
Die adjunkhoofde en departementshoofde is as voogde vir sekere grade en vakke verantwoordelik. Hierdie persone sal u te woord staan in verband met enige probleem wat betrekking het op ‘n leerder in ’n betrokke graad of vak. Vakprobleme word met die betrokke vakhoof bespreek en algemene probleme met die graadvoog.
Ouers is altyd welkom om die skool te besoek. Skakel vooraf om ’n afspraak te reël sodat die nodige inligting voorberei kan word en om seker te maak dat die betrokke persoon beskikbaar is.