ASA Atletiekkampioenskappe 2023 ‘n triomftog vir NHS-atlete!

ASA Atletiekkampioenskappe 2023 ‘n triomftog vir NHS-atlete!

Hoërskool Nelspruit, en sekerlik die hele Laeveld-gemeenskap, stoot die bors ver uit van trots, na skitter-vertonings wat die afgelope naweek deur plaaslike atlete by ASA se nasionale kampioenskappe in Pietermaritzburg (KZN), gelewer is. Nellies se elite-groep keer huiswaarts met ‘n volle halfdosyn individuele medaljes, waarvan Ashley Erasmus se TWEE goue medaljes, die groot hoogtepunt was.

NHS se goue meisie het vanaf interhuis, en daarna by alle vriendskaplike byeenkomste, die twee interhoërs waaraan NHS deelgeneem het, tot nou by die SA-kampioenskappe, elke keer die gewig-
stoot en skyfwerp vir meisies 19/20 gewen! In KZN stel sy ‘n nuwe Nellie-rekord van 52,35m in skyfwerp op (die verste wat ‘n atleet van Mpumalanga nog ooit kon gooi), en eindig meer as 5 meter voor Gauteng-Noord se Lesedi Khunou (47,24m). Die stryd tussen Ashley en haar sterkste uitdager (Zonnika Lindeque) om die gewigstootkroon, was spannend verby! Zonnika breek vir die eerste keer deur die 16m-grens, toe sy die 4kg-gewig op ‘n pragtige 16,22m laat grondvat het. Dit was weer tyd vir ware Nellie-‘guts’, en met brute wilskrag, sorg Ashley vir die wenpoging, toe sy die maatband tot by 16,35m laat rek.

Nadat sy lank weens ‘n knaende besering buite aksie was, en gevolglik min deur die seisoen deelgeneem het, het Shanese de Clerck vriend en vyand verras, toe sy goud in hoogspring (meisies 20) gewen het! Die stryd was fel, maar Shanese was vasbeslote om, soos in 2022, ‘n nasionale titel te verower. Haar wenhoogte van 1,70m is dieselfde as dié van die ander twee medaljewenners, met nog ‘n Laevelder, Rob Ferreira se Caitlin Dehrman, wat eweneens uitgeblink het deur brons te wen. Shanese verbeter ook die ou Nellie-rekord van 1,65m, wat sy met Thelma van Rensburg (in 2000 opgestel) gedeel het.

Zoë Cilliers het ook ‘n onvergeetlike byeenkoms beleef. Nadat sy in haar uitdun, die Nellie-rekord in die 100m (m.15) na 12.21 verbeter het, eindig sy tweede in die finaal (12.42), wat dus aan haar die silwermedalje besorg het. Al kon sy nie ‘n podiumplek in die eindronde van die 200m haal nie, was haar tyd van 25.14 in die halfeind, ‘n prag-prestasie wat 928 punte op die ASA-tabel werd is.

Menzi Shiba en Tye Habib (beide vanjaar nog onder 15) het in die ouderdomsgroep seuns 16 hulle stemme dik gemaak, deur beide met ‘n welverdiende, blink silwermedalje huiswaarts te keer. In die verspring het Menzi met ‘n spogafstand van 6,28m tweede geëindig, en Tye was die naaswenner in driesprong, waar hy ‘n uitstekende 12,67m gehaal het. Tye het net-net die bronsmedalje in verspring gemis, toe hy slegs EEN sentimeter na die tweede atleet, op 6,24m geland het. Menzi het ook in die 300m hekkies uitgeblink, toe hy met ‘n puik tyd van 39,62 tweede in sy uitdun was. In die finaal, moes hy egter met ‘n vierdeplek (40.24) tevrede wees.

Die ander Nellies wat in aksie was, het gewis ook daartoe bygedra dat daar deeglik van Mpuma-
langa se atletiekkrag kennis geneem is – soos die volgende uitslae getuig:

David Botha (s.18): spiesgooi 55,62m (8e in die finaal)
Anele Mkhonto (s.18): 800m – 1:55.46 (5e in die finaal) *Anele is nog onder 16
Kian Mouton (mans 20): 800m – 1:55.13; ook 1500m – 4:08.13
Zané Nel (m.16): gewigstoot – 13,13m (6e in die finaal) *Sy is nog onder 15
Anja Venter (m.20): skyfwerp – 36,57m (10e in die finaal)
Lana Theron (m.16): 200m – 25.52 in haar uitdun, toe 25.77 in die halfeindronde *Lana is nog onder 14.
Simoné Lourens (m.16): 300m hekkies – 44.71 (6e in die finaal, met ‘n nuwe Nellie-rekord) *Ook nog onder 15.
Lian Antunes (s.16): 200m – 23.47; en 400m – 52.52 *Nog onder 15

Na die byeenkoms, is die nasionale span wat Suid-Afrika by vanjaar se African Games in Zambië gaan verteenwoordig, bekend gemaak. NHS is erg trots op Ashley Erasmus (gewigstoot en skyfwerp) en Shanese de Clerck (hoogspring) wat in hierdie uitsoekgroep ingesluit is, en sodoende dan hulle SA-kleure verwerf. Welgedaan!

Artikel: Mnr. Kobus de Wet