
20 Sep Atlete skuur skouers met die beste in die noorde
NHS se Gideonsbende wat gister, Donderdag 19 September, op Tuks se pragtige baan te Pretoria aan die eerste Twizza Interskole- kompetisie deelgeneem het, het die geleentheid gehad om met die beste skolespanne noord van die Vaalrivier, kragte te meet. NHS en Lydenburg het die Laeveld verteenwoordig – en dit was ‘n strawwe uitdaging, so net na die lang winter en slegs aan die begin van die voorseisoen-program. Daar is slegs in ‘n onder 16- en onder 19- afdeling, meegeding.
In die seunsafdeling, was daar 43 deelnemende skole. NHS se uiteindelike posisie van nr.18, was heel verdienstelik. Die beperking wat ouderdomsgroepe betref, het beteken dat van die beste atlete nie hul slag kon toon en punte vir die span kon aanteken nie. Die gedugte span van Affies was eerste, met Prestige College en Menlopark in die ander podium-posisies.
Wat die meisies betref, het NHS 17e uit ‘n totaal van 38 spanne geëindig. Ook hier was die drie Pretoria-skole bo-aan die wennerslys, met Menlopark die uiteindelike kampioen, gevolg deur Meisies Hoër en Prestige College.
Zander van der Merwe (s.19) het geskitter, toe hy die spiesgooi met ‘n uitstekende 64,20m gewen het. In die proses het hy met Garsfontein se SA-atleet, Regardt Botha (63,28m) afgereken. Kragman Douw Kruger (ook s.19) het ook uitstekende presteer, toe hy in beide gewigstoot (16,84m – tweede) en skyfwerp (47,77m – derde) sy beste afstande met die swaarder implemente (vir s.19) behaal het. Juan Oosthuyzen (Helpmekaar) het met 16,92m die gewigstoot-item gewen – net enkele sentimeter voor Douw. Met die groot byeenkomste nog in die toekoms, is dit beduidend dat Douw in beide sy items, met Affies se beste atleet, Tian van Zyl (15,70m en 47,47m), afgereken het.
Handré van der Merwe en Marco Capazorio (s.16) se prestasies in die 400m hekkies, verdien gewis ook spesiale vermelding. In totaal het 27 atlete aan hierdie item deelgeneem, en Handré (4e met 56.72sek.) en Marco (5e met 57.98sek.) het gewys dat hulle reg vir groot dinge in die nuwe seisoen is. Hulle tye in die 110m hekkies, was onderskeidelik 14.80sek. en 14.83sek.
Van die ander goeie uitslae, is onder meer:
Lourens Potgieter (s.19): 100m – 11.20sek.
Marvin Mthetwa (s.19): 110m hekkies – 15.25sek.
Coben Putter (s.19): skyfwerp – 38,44m
Philip Swanepoel (s.16): skyfwerp – 34,28m
Hannes Botha (s.16): spiesgooi – 48,97m
Mila de Villiers (m.19): 1500m – 5:30.73
Tayla Kotzee (m.19): 400m hekkies – 72.82sek., ook 200m – 27.50sek.
La-Alizia Venter (m.16): gewigstoot – 11,09m
Nicci Viljoen (m.16): 100m hekkies – 17.01sek.; ook 400m hekkies – 74.19sek.
Jana Engelbrecht (m.16): 100m – 12.95sek.; ook 200m – 27.22sek.
Rhodé Nel (m.16): 200m – 25.56sek.
Lané Taljaard (m.16): hoogspring – 1,45m
Shana Scott (m.16): skyfwerp – 32,68m
Kayla Labuschagné (m.19): 400m – 62.09sek.