Atlete slyp vir oulaas in Pretoria vir Laeveld-interhoër

Atlete slyp vir oulaas in Pretoria vir Laeveld-interhoër

NHS se atletiekspan het Vrydag 17 Februarie en Saterdag 18 Februarie, die ideale voorbereiding vir vanjaar se Lydenburg-interhoër gehad, toe hulle by twee groot byeenkomste in Pretoria, kragte met van die land se bestes gemeet het.

Die span het in twee rigtings beweeg: Eers het ‘n groep atlete Vrydag by Hoërskool Zwartkop teen die tuisspan, Rustenburg, Oos-Moot, Kemptonpark en HTS John Vorster gaan spiere bult, terwyl ‘n uitsoek-groep Saterdag in die Pilditch-stadion, die geleentheid gehad het om teen sowat veertig ander spanne , aan die gesogte Curro Podium- byeenkoms deel te neem. Laasgenoemde geleentheid het saamgeval met vertoonwedlope waarin onder meer nasionale senior kampioene soos Akani Simbine, Carina Horn en Zeney vd Walt, in aksie was. Wat ‘n wonderlike voorreg!

By H/S Zwartkop, het veral die verspring- en worpe-atlete, ‘n uiters suksesvolle dag beleef. Jordan Pretorius (s.16: 6,59m) en Marko Matthee (s.17: 6,64m) het beide hul items gewen, en in die proses persoonlike beste afstande behaal. Tye Habib (s.15) se 6,14m het ook indruk gemaak, maar hy het eintlik met sy vertoning in driesprong, naam gemaak. Hy neem deel aan die driesprong vir seuns 19, en verbaas vriend en vyand deur eerste met ‘n wenafstand van 12,34m te eindig!

Die veelsydige Vaughn van Zyl, was die groot uitblinker in die afdeling vir seuns 16. Hy wen die skyfwerp (45,72m) en spiesgooi (56,30m), en verower verder ook silwer in gewigstoot, met ‘n goeie poging van 14,22m.

Ander Nellies wat met eersteplekke kon spog, is Karl Erichsen (s.19: 110m hekkies – 16.38); Owen Ngwenya (s.15: hoogspring – 1,75m); Ryan Venter (s.19: gewigstoot – 14,68m); Riaan Botha (s.15: spiesgooi – 51,03m) en Robroy MacGregor (s.14: spiesgooi – 39,98m).

Onder die meisies, was Telieze Coetzee (m.17) die groot uitblinker, toe sy ‘n mooi 814 ASA-punte verwerf het met haar poging van 11,89m in gewigstoot.

By die Curro-byeenkoms, het NHS se meisies weer eens bewys dat hulle beslis een van die top spanne in die land is. Hulle eindig algeheel sewende (uit 35 spanne), en reken in die proses af met skole soos Paarl Girls High, Montana, Bloemhof, Prestige Kollege en Garsfontein. ‘n Pragtige prestasie! Die seuns het deurentyd klippe gekou, en moes hard veg vir ‘n sestiende plek (uit 40 spanne). Hulle eindig voor sterk spanne soos Paul Roos Gimnasium, Jeugland, HTS Middelburg, Monument, Oakdale Landbouskool en Randburg. Toe die gesamentlike uitslag bekend gemaak is, was die Nellies verheug om te hoor dat hulle ‘n tiende plek (31433 punte) verower het, bokant skole soos Midstream College (31293), Monument (29892), Waterkloof (29261) en Vorentoe (27310). Curro Nelspruit was in die twee en twintigste plek.

Wat individuele vertonings betref, het NHS se Ashley Erasmus (m.19) weer opslae gemaak! Sy wen die gewigstoot (16,54m) en skyfwerp (50,89m) en voeg oudergewoonte, weer die maksimum van 2000 punte by NHS se spantotaal. Sy is baie goed deur haar spanmaats ondersteun, want daar was in totaal 15 prestasies deur NHS se meisies, wat meer as 800 punte werd was!  Drie huishoudelike (Nellie-) rekords het ook in die slag gebly. Sheba Sithole, wat vanjaar nog onder 16 is, lê die uitmergelende 3000m in ‘n blink tyd van 10:40.83 af (869 punte), en verbeter daarmee Jessica Berry se 2017-tyd van 10:57.33. In die 300m hekkies vir meisies 15, vee Simoné Lourens die vorige rekord van Nerina Visser (het op 45.69 gestaan) uit die rekordboeke, toe sy in ‘n vinnige 44.84 (889) oor die wenstreep gebars het. Dan het Lana Theron, vanjaar nog onder 14, in die 200m vir meisies 15, ‘n puik tyd van 25.60 aangeteken, wat Zoë Cilliers se 25.88 van verlede jaar (vir meisies 14), oortref het. Daarmee het Lana ‘n stewige 888 punte vir haar skool ingeoes.

Die bestendige Zané Nel (m.15) het ook weer haar gebruiklike goeie bydraes gelewer. Hierdie staatmaker blink weer uit in gewigstoot (12,77m – 874) en skyfwerp (35,30m – 856) en is sterk op pad na die goue tweekuns op Lydenburg. So ook die blitsige Zoë Cilliers (m.15), wat twee puik tweedeplekke, in die 100m (12.42 – 886) en 200m (25.77 – 877), losgehardloop het.

Wat die seuns betref, sal die twee pragwedlope waarin Kian Mouton (s.19) betrokke was, nie lig vergeet word nie. Kian se skittertye van 1:54.20 (802) in die 800m, en 4:04.05 in die 1500m (854 punte) herinner sterk aan die gloriedae van atlete soos Johan Pretorius, Gronighan Grobler, Wandla Nkosi en ander langasems wat deur die jare NHS se naam hoog gehou het.

Benewens die prestasies wat reeds genoem is, was daar nog 800+ vertonings wat vir seker van kennis geneem moet word:

Menzi Shiba (s.15): 100m hekkies – 14.17 (808)
Divan de Kock (s.17): gewigstoot – 15,25m (826); en skyfwerp – 49,20m (847) * Hy is nog onder 16
Anja Venter (m.19): skyfwerp – 36,55m (811)
Simoné Lourens (m.15): 90m hekkies – 14.14 (856)
Lana Theron (m.15): 100m – 12.67 (848) *Sy is nog onder 14
Juané le Roux (m.17): skyfwerp 37,72m (862) *Nog onder 16
Christine Venter (m.17): skyfwerp – 35,15m (823)
Livy Owen (m.19): 400m hekkies – 67.35 (823)

Nog Nellies wat moeilik van interhoërmedaljes weggehou sal kan word, sluit in:

Vian Louw (s.15): skyfwerp – 44,74m
David Botha (s.17): spiesgooi – 59,52m
Dirk-Arnold Joubert (s.15): skyfwerp – 46,19m
Anele Mkhonto (s.17): 800m – 1:59.35 (hy is nog onder 16)
Lian Antunes (s.15): 400m – 52.48
Kristen Berry (m.19): 800m – 2:28.40
Mendel Smook (s.16): hoogspring – 1,80m
Jacques Bouwer (s.16): spiesgooi – 51,03m
Renate Swanepoel (m.14): skyfwerp – 26,42m