Atletiek: Uitstekende vertonings by eerste voorseisoen-byeenkoms!

Atletiek: Uitstekende vertonings by eerste voorseisoen-byeenkoms!

Hoërskool Nelspruit se eerste byeenkoms na die winter-verposing, NHS Blitz, het waarlik die wenkbroue laat lig. Die entoesiasme en verrassende hoë peil wat deur die puik uitslae weerspieël word, bring onwillekeurig die ou Engelse gesegde na vore: ‘When the going gets tough, the tough gets going!’ Dis duidelik dat atlete en afrigters hulle nie deur die uitdagings van inperkings en veranderende roosters, laat onderkry nie!

Die program het vir deelname in die ouderdomsgroepe 15, 17 en 19 voorsiening gemaak. Dit beteken dat ‘n klompie atlete teen ouer mededingers moes deelneem, of in die ouderdomsgroep waarin hulle in elk geval in 2022 moet meeding. Items waarin atlete hulle slag kon wys, was 100m, 200m, 90m/100m/110m hekkies, 800m, 1 myl, gewigstoot, skyfwerp en spiesgooi.

NAELLOPE
In die 100m vir seuns 17, was NHS se Handré vd Merwe in ‘n rillerstryd teen Rob Ferreira se Prosperity Masinga betrokke. Beide het deur die 11 sek. grens gebars, met Masinga (10.88) ‘n kortkop voor die Nellie (10.97). André Potgieter kan ook heel tevrede met sy 11.25 in die 3e plek, voel. Handré se wentyd van 22.66 in die 200m, voorspel ook mooi dinge vir die wedlope wat gaan volg. Rhodé Nel (meisies 19) het in albei haar naellope, meer as 800 punte op die strawwe ASA-tabel verdien: 100m – 12.25 (830) en 200m – 25.47 (840).

HEKKIES
Twee wedlope wat gewis nie gou vergeet sal word nie, was die 100m hekkies vir seuns 15, asook 110m hekkies vir seuns 17. Wat eersgenoemde item betref, het NHS se Ruan de Beer (14.66) en Lydenburg se Thapelo Moloi (14.72) mekaar tot deur die wenpaal opgedreun. In hierdie item, het die eerste VYF atlete tye van onder 15 sekondes aangeteken – uitstekend! Curro se Anonymous Mbyelo was in die 110m hekkies, vasberade om NHS se SA-atleet te troef! Hy het alles in die stryd gewerp, maar dit was Handré vd Merwe wat in ‘n uitstekende tyd vir dié tyd van die jaar (14.34, 852 punte) net-net met Mbyelo (14.44, 842 punte) kon afgreken. Simoné Lourens van Nellies se 14.50 in die 90m hekkies vir meisies 15 (813 punte) verdien beslis ook spesiale vermelding.

MIDDELAFSTANDE
Die beste pestasie volgens die ASA-tabel, was Kristen Berry se 2:26.06 (770) waarmee sy in die 800m vir meisies 17, net te vinnig vir haar opponente was. Sy het ook die sonderlinge wedloop oor 1 myl, wat selde plaasvind, in ‘n goeie 5:43.84 gewen. Hier het die jonge Sheba Sithole (ook ‘n Nellie) met haar tyd van 5:47.59 beïndruk. Die myl vir seuns, is deur Kian Mouton (4:53.03) ingepalm. In nog ‘n spannende item, slaag NHS se André van Schalkwyk daarin om Rob Ferreira se Kgotso Mashete in die naelloop na die wenpaal te troef. Sy tyd was 2:06.18, teenoor Mashete se 2:06.97.

SPRONGE
Hoogspring het voorwaar vir blink vertonings gesorg! NHS se Elizma de Villiers (meisies 15) het op ‘n uitstekende 1,55m oor die dwarslat geseil, en een van Witrivier se bekende atlete, Erin Dehrmann, het haar seisoen met ‘n goeie 1,57m (m.17) afgeskop. In die item vir seuns 19, was die tuisspan se tienkamp-yster, Phillip Vogel, in ‘n naelbytstryd teen Lowveld High se Bandile Sifunda gewikkel. Beide het op ‘n indrukwekkende 1,85m geslaag, met Sifunda wat eerste geplaas is (minder mislukte pogings gehad). Wat verspring betref, was dit verblydend om ‘n hele paar spronge verder as 6m te sien. Lydenburg se veelsydige Thapelo Moloi (6,02m, s.15), asook Curro se Taka Tadereia (6,27m, s.17) en NHS se Ethan vd Westhuizen (6,22m, s.17) het getoon dat blink vertonings in die vooruitsig gestel kan word. Zané du Toit (NHS, m.15) het ‘n goeie 4,68m aangeteken, met spanmaat Anuska Bothma (4,57m) wat ook heelwat belofte toon. Onder die meisies 17, was dit Lowveld High se Sinethemba Malembo (4,85m), en Nellies se Karien Goosen (4,71m) en Bianca van Zyl (4,59m) wat die botoon gevoer het.

WORPE
NHS se befaamde ‘worpe-fabriek’ is duidelik weer aan’t woeker! SA-kampioen Ashley Erasmus (m.17 in 2022) het by haar eerste byeenkoms na die puik medaljes by vanjaar se nasionale byeenkomste, reeds weer geskitter! Sy wen die gewigstoot (16,39m – 981) en skyfwerp (42,43m – 930) op indrukwekkende wyse en is duidelik oorgehaal om weer die bestes in die RSA aan te vat. Anja Venter (ook m.17) kan self na ‘n medaljeryke seisoen uitsien, met blink afstande van 11,23m (gewigstoot) en 36,47m (skyfwerp – 843). In haar eerste amptelike poging met die 4kg (m.19), behaal La-Alizia Venter ‘n baie mooi afstand van 11,43m (835 punte). Daarmee voeg sy haar naam by welbekende voorgangers soos Ilke Joubert en Charlotte Steyn, wat ook jare gelede met 11m+ pogings vorendag kon kom. La-Alizia begin ook haar skyfwerp-aanslag met 30,92m.  In gewigstoot vir meisies 15, het drie jongelinge die 3kg-gewig verder as 11m laat grondvat – nogeens puik afstande! Zané Nel (vanjaar nog meisies 13) het met ‘n uitstekende 12,18m (851) losgetrek, gevolg deur NHS se Shandré Ehlers (11,40m – 819) en Juané le Roux (11,01m – 802). Ook Christine Venter (10,69m, asook 31,71m in skyfwerp) het die oog gevang. Shandré het met ‘n gooi van 32,31m in skyfwerp (807) eweneens die stem dik gemaak. In Vaughn van Zyl en Divan de Kock (beide volgende jaar seuns 15) het NHS vir seker skyfwerp-manne wat die medlajes gaan inryg! Met sy verstommende 52,83m (874 punte) het Vaughn waardige treë in die arena van wyle Frans Schutte, gegee. Divan de Kock (42,47m) kan ook met vertroue na ‘n goeie seisoen uitsien.

Jolanke van Zyl, eerste NHS-meisie wat verder as 40m in spiesgooi kon haal, het haar debuut met die swaarder 600g-apparaat met ‘n stewige 39,76m (803 punte) gemaak. As die beseringspook wegbly, kan sy reeds vanjaar ook die eerste meisie wat verder as 40m (600g-spies) kon aanteken, word. Geluk ook aan Hannes Botha, wat na twee jaar van deelname met die 700g-gram spies, die seniors se 800g moet hanteer – en met ‘n baie goeie 51,28m sy merk gemaak het! Sodoende het hy Rob Ferreira se Ricardo Raubenheimer (48,16m) en mede-Nellie Danny van Staden (47,91m) in die tweede- en derde- plekke gedwing. Amé Quinn van Witrivier (m.15) het die 500g-spies op ‘n mooi afstand van 29,05m laat pen.

Nog ‘n paar mooi NHS-vertonings wat ‘n mens opgewonde oor komende byeenkomste maak, sluit in:

Ian Wood (s.15): 100m – 11.56; 200m – 23.75

Zané Potgieter (m.17): 100m – 13.25; 200m – 27.66

Anuska Bothma (m.15): 100m – 13.53; 200m – 28.38

Marno du Plessis (s.15): 200m – 24.00

Larisa Grobler (m.17): 200m – 27.79; 100m hekkies – 16.31

Alexandre Viljoen (s.19): 800m – 2:06.00

Stefan Coetzee (s.15): 800m – 2:13.40

Joshua Finshem (s.15): 800m – 2:13.78

Ruan Pretorius (s.17): hoogspring – 1,70m

Divan de Kock (s.15): gewigstoot – 12,77m

Sylvia Barnard (m.19): spiesgooi – 31,29m

Larisa Grobler (m.19): gewigstoot – 10,37m