07 Sep Bly staande in stresvolle tye
Me. Kathy Knott, bekwame plaaslike beradingsielkundige, het Donderdag 2 September met die personeel van Hoërskool Nelspruit kom gesels en raad gegee hoe om staande te bly in stresvolle tye.
Die Covid-pandemie se effek op die gees van die mens word al meer gevoel. Onderwysers ervaar toenemende daaglikse uitdagings. Sy verwys na die pandemie as ons eie oorlog wat ons daagliks teen ‘n ongesiene vyand moet voer en dat dit ons geestelik en emosioneel uitput omdat ons heeltyd paraat moet wees.
Kathy het die belangrikheid van eie welstand aangespreek. Met haar kundigheid en jare se ervaring het sy verkeie wenke gegee oor hoe om staande te bly in hierdie onseker tye.
“Dit is baie belangrik om na jou eie selfsorg om te sien. Eet reg, slaap goed, maak tyd om met jou geliefdes te gesels en oefen,” sê Kathy. Sy beklemtoon ook dat dit beslis waar is dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves en dit nie selfsugtig is om aan jou eie welstand te dink nie. Dit is jou verantwoordelikheid om mooi na jouself te kyk, juis sodat jy ook in staat kan wees om ‘n positiewe bydrae te lewer in ander se lewens. Verder het sy die personeel aangepor om te fokus op dinge waarvoor hulle dankbaar kan wees. Daar is áltyd iets om voor dankbaar te wees, al is dit net ‘n klein dingetjie. Volgens haar kan die mens hom positief programeer deur te fokus op dit wat jy wel het.
Die personeel het na afloop van hierdie sessie ‘n nuwe uitkyk op die alledaagse gejaag van die lewe gekry. Almal was dankbaar vir Kathy Knott se waardevolle insette.