Coronavirus en Covid-19 inligting

Coronavirus en Covid-19 inligting

Die Beheerliggaam en Bestuur van Hoërskool Nelspruit het kennis geneem van die maatreëls wat die President op Sondagaand 15 Maart getref het ten opsigte van die Covid-19 virus.
Die volgende besluite is geneem: Die skool sluit op Dinsdag 17 Maart 2020 om 13:20 en open weer op Dinsdag 14 April 2020. Om die akademiese tyd wat verlore gaan te beperk word die Junie vakansie met 1 week verkort en die September vakansie met 2 dae verkort. Verdere planne om die akademiese tyd wat verlore gaan in te haal sal ter gelegener tyd aan u en die leerders gekommunikeer word. Ouers moet kennis neem dat alle sporttoere / klinieke / toernooie / byeenkomste van die skool wat die vakansie sou plaasvind gekanselleer word. Afrigters van spanne sal met ouers wat reeds toergelde betaal het, kontak maak oor die verdere hantering van die geld.Die volgende maatreëls is van toepassing wanneer die skole weer begin:

  • Alle leerders en werknemers van die skool is reeds ingelig oor die maniere waarop die Covid- 19 virus versprei asook oor die simptome van die siekte.
  • Leerders, personeel en ander werknemers is ook ingelig om persoonlike higiëne te verbeter.
  • Leerders word aangemoedig om handreinigers saam te bring skool toe vir hul eie gebruik. Die skool se algemene werkers sal die badkamers voor- en na pouse diens en ook voor skool en direk na skool. Ouers van koshuisleerders is reeds ingelig oor addisionele maatreëls wat by koshuise getref is ten einde die verspreiding van die virus te beperk.
  • Indien ‘n leerder nie in kontak was met iemand wat positief getoets is vir die Covid-19 virus nie en nie enige simptome van die siekte het nie, mag so ‘n leerder skooltoe kom en deel wees van die buitemuurse bedrywighede.
  • Indien ‘n leerder in kontak was met iemand wat positief getoets het, moet die leerder geïsoleer word vir 14 dae. Indien geen simptome van die siekte voorkom nie, mag die leerder weer deel van die skool wees.
  • Indien ‘n leerder positief getoets word vir die virus, moet die leerder die dokter skakel en die nodige protokol volg. Die leerder moet ook die skool laat weet. Hy/sy moet vir 14 dae geïsoleer word en mag eers terugkom skool toe indien hy/sy nie meer die virus kan versprei nie.

Die skoolgemeenskap van Hoërskool Nelspruit het nou die geleentheid om gedragspatrone te verander soos bv om persoonlike higiëne op te knap, om meer tyd met u kinders te spandeer, om oumense te help beskerm.
Kom ons aanvaar elkeen persoonlik verantwoordelikheid om ons bewegings te beperk en om die moontlike verspreiding van die virus te vertraag of te beperk.
Die situasie ten opsigte van die skoolopening kan baie vining verander – wat beteken die Bestuur en Beheerliggaam sal dan weer nuwe planne maak.
Geniet die tyd saam met u kinders.