DAME MET FINESSE AANGEWYS

DAME MET FINESSE AANGEWYS

2020 was beslis ‘n jaar met uitdagings vir al ons koshuisleerders, veral dié in matriek. Ekstra spesiale stappe is geneem om Covid-19 by Huis Maré en Huis Hermann Davin te voorkom.

Ten spyte hiervan het die koshuisvaders geleenthede geskep om die leerders te motiveer, ondersteun en sommige tradisies voortgesit. Een van die tradisionele geleenthede, die Huis Maré dinee, is as ‘n formele ete op Donderdag 3 September aangebied. Slegs die graad 12-meisies en ‘n paar eregaste het die geleentheid bygewoon. Die rooi tapyt is uitgerol en die matieks het in stylvolle formele drag die saal wat pragtig deur die graad 10’s en hul ouers versier en ‘n sprokieswêreld omtower is, betree.

Tydens hierdie geleentheid is drie toekennings gemaak. Hierdie jaar se Koshuisvader-toekenning is aan Chrisna Loubser (Dux Verteenwoordigende Koshuisraad 2019/2020) gegee. Die koshuisvader, mnr. Bertus Steyn, sê dat Chrisna doelgerig en met mening alle take aanpak. Hy het bygevoeg: “Chrisna, jou hart vir die koshuis is duidelik sigbaar.”

Die toekenning vir die netjiesste kamer is aan Felicity Shultz oorhanding.

Daar is ook ‘n splinternuwe toekenning oorhandig. Hierdie toekenning is deur me. Elize Stidworthy voorgestel en is deur al die diensdoeners aanvaar. Die Dame met Finesse-toekenning word aan ‘n jong dame gegee wat deur haar optrede die sprekende voorbeeld is van: grasie, elegansie, vaardighede om enige situasie te hanteer, ‘n gebalanseerde leefstyl handhaaf, ‘n sagtheid besit, standvastigheid openbaar, wat opbouende woorde spreek, gegrond is in waardes, opreg omgee vir haar medemens, netheid wat deel van haar vrouwees is besit, wat haar weerhou van negatiewe gewoontes, wat haar medemens met respek hanteer en tevredenheid met haarself besit.

Die diensdoeners nomineer ‘n kandidaat en stem dan vir die meisie wat hierdie toekenning waardig is. Hierdie toekenning is vanjaar aan Lize Louw oorhandig.

Dit was ‘n voorreg om ‘n oud-Nellie me. Elané van Dyk (nou Van Heerden), Koshuis-Dux van 2010, as eregas by die geleentheid te verwelkom. Sy het haar hart met stories van toeka tot nou met die matrieks gedeel.

Die graad 10-ouers het ‘n voortreflike maaltyd bedien en almal het heerlik geëet en saamgekuier om op ‘n gepaste wyse so afskeid  te neem van Huis Maré, hul tuiste vir vyf jaar.