Dawie is voorloper by VW Motormart Challenge

Dawie is voorloper by VW Motormart Challenge

Dawie van der Merwe in graad 11 het hierdie jaar vir die eerste keer aan die VW Motormart Challenge in die C-Klas formaat begin deelneem. Matthys Ferreira, redakteur van Autodealer Lowveld,het vroeër die jaar ‘n onderhoud met Dawie en sy pa, Hentie, gevoer. Dawie het van kleinsaf saam met sy pa na motorresies gaan kyk. Op 13-jarige ouderdom het hy self begin ry in die “Rebel” klas in ‘n Datsun GX. Klik op die skakel om die volledige artikel te lees van hoe Dawie gevorder het tot by die VW Motormart Challenge.
https://lowvelder.co.za/480729/dawies-heart-set-greatness/
Die eerste rondte van die VW Motormart Challenge het 16 Februarie by Red Star Raceway in Delmas plaasgevind. Dit was ‘n opwindende resies waar Dawie die gaping tussen hom en die voorloper stadig maar seker kleiner gemaak het.

Ten spyte van die toegepaste druk van Dawie se kant, het Reno van Heerden gewen. By die tweede rondte wat in Centurion by Zwartkop plaasgevind het, het hy ‘n tweede plek behaal met net ‘n halwe sekonde agter die wenner. Die jongeling moes al die pad Bloemfontein toe reis vir die vierde rondte wat by Phakisa Freeway aangebied is. Hy eindig weer op die podium in die derde plek. Die 29ste Junie by Zwartkop Raceway wen hy die eerste en tweede been van die resies en kom hy eerste met sy Lee Thompson Racing Polo.

Saterdag, 20 Julie tydens rondte 5 by Delmas is die besoekers gegroet met koue en winderige weersomstandighede. Dawie moes hard veg om voor te bly in die resies met die ander ryers kort op sy hakke. Hy kry dit dan ook reg om die hele resies die voortou te neem en is beloon met nog ‘n oorwinning. Hy is tans algeheel in die agtste plek en eerste in die C-Klas formaat. Die volgende resies vind 17 Augustus in Pretoria plaas.