
07 Apr Dié drie werk ‘n gedugte span
Janu, Wentzel en Franco Erasmus (graad 12) is die eerste drieling in die skool se geskiedenis wat saam in die Bestuurskomitee van die VLR dien.
Twee van die broers is boonop ook adjunkdux’e: Franco is adjunkdux van Akademie, Geestelik en Nellie-hart en Janu van Kultuur en Bemarking. Hul ousus, Mia was in 2016 ‘n dux by die skool en is nou ‘n vierde jaar mediese student aan die Universiteit van Stellenbosch.
Met so ‘n dinamiese voorloper is dit dan ook geen wonder dat die broers ook na matriek wil gaan studeer nie. Janu wil ook soos Mia, medies studeer, Wentzel B.Com Rek en Franco wil homself as ‘n aktuaris bekwaam.
Die onkostes verbonde aan vier studente se studies gaan verseker ‘n aardige bedrag beloop. Die broers het besef dat hulle iets sal moet doen om hul ouers te help om fondse in te samel.
Gedurende die inperking het hulle ‘n brandrissiesous van ‘n oorspronklike Mosambiekse resep verfyn tot ‘n smaaklike sous van hul eie. Die sous ‘Triple Chill Sauce’ is nou beskikbaar en in verskeie plaaslike winkels te koop. Gaan besoek gerus hul Facebook of Instagram bladsye vir meer inligting: Branded_By_Triplets