Dié speelgoed is nou tuis in NHS se winkel

Dié speelgoed is nou tuis in NHS se winkel

Die nuwelinge by NHS het na weke se oefening saam met juffrou Kriekie Bekker, ‘n spoggerige produksie op die planke gebring. Ouers, personeel en vriende het Donderdag, 30 Januarie die nuwe speelgoed in aksie gesien. Die storie speel af in die “Nellie-winkel” wat propvol speelgoed is.

Daar is van Lego-blokkies tot Barbie en gunstelinge uit rolprente soos Woody van Toy Story en Alladin van Disney. Die poppe begin behoorlik te dans wanneer die musiek begin speel…
Dit is veral die pragtige ballerina met haar kleurvolle kostuum wat uit haar boks spring met klassieke en moderne danspassies wat die gehoor gaande gehad het.

Die nuwe onderwysers maak ook hulle debuut in hierdie konsert. Die “akteurs” van Binnelanders probeer met behulp van ‘n regisseur ‘n toneel opneem, maar dit gaan maar sukkel-sukkel. As die toneel nie té stadig is nie, is dit té romanties.
Almal sal saamstem, dat hierdie speelgoed ‘n rak in die “Nellie-winkel” verdien. Hierdie leerders se entoesiasme en vriendelikheid is noemenswaardig.

NHS is opgewonde en geseënd om hierdie puik nuwelinge as volwaardige Nellies te verwelkom.