Dis weer interhoërjaar by Nellies!

Dis weer interhoërjaar by Nellies!

Na ‘n Covid-besmette en frustrasievolle jaar sonder ‘n Laeveld Vriendskaplike Interhoër, vind hierdie groot hoogtepunt op vele skole se jaarkalenders, weer in 2022 plaas. Soos die geval in 2015 was, toe NHS die trofee as algehele wenners vir die vyftigste keer agtereenvolgens verower het, is Hoërskool Nelspruit weer vanjaar die gasheer vir dié atletiekfees. Die byeenkoms is vir Saterdag 26 Februarie 2022 geskeduleer, en te oordeel aan die opgewondenheid en entoesiasme wat reeds in die eerste skoolweek van die nuwe jaar ervaar is, gaan vanjaar se skouspel weer eens een vir die fyn-proewers wees!

NHS spreek op hierdie vroeë stadium, sy opregte dank en groot waardering uit teenoor lojale en ander potensiële borge, asook die staatmaker-ondersteuners, wat vanjaar se unieke geleentheid, die interhoër­vir-die-kinders, moontlik maak.

Soos algemeen bekend, moet daar natuurlik aan streng Covid-regulasies en spesiale beperkings gehoor gegee word. Die vergunning van 2,000 persone by enige buitelug byeenkoms, bring mee dat vanjaar se byeenkoms, in ‘n veel groter mate as in die verlede, op leerling-betrokkenheid gefokus sal wees. ‘n Mens wil graag glo dat die atletiek-honger publiek, sal verstaan dat die kinders wat deur die afgelope seisoene se inperkings moes stoei, eerste voorkeur sal kry – hulle verdien dit! Om ‘n skoolvriend of klasmaat vanaf die pawiljoen te kan aanmoedig en in die heerlike interhoër-euforie te mag deel, is ‘n voorreg wat (soos Covid ons bewys bet) nie almal beskore was nie. Die aantal deelnemende atlete is ongeveer een duisend, met die gevolg dat slegs ‘n beperkte aantal sitplekke per skool (vir leerling-toeskouers) beskikbaar sal wees.

Die goeie nuus, is dat die ouergemeenskappe en ander ondersteuners van die verskillende skole, al die aksie virtueel sal kan volg! Daar word tans onderhandel om die beste opsie vir die stroming (‘streaming’) van die byeenkoms, te vind. Maak dus gereed om op 26 Februarie 2022, in die gemak van u eie woonplek, in vanjaar se uitstalvenster van die Laeveld se atletiektalent, te deel. Finale reelings en verdere inligting, sal mettertyd gekommunikeer word.

Baie sterkte aan al ons pragtige atlete en hul afrigters, wat tans hard aan die oefen is om hul skool met trots te verteenwoordig, en dalk een van die gesogte medaljes of trofeë te kan inpalm.