Drie silwer toekennings vir NHS se tienertoneel

Drie silwer toekennings vir NHS se tienertoneel

NHS se tienertoneelgroepie is drie silwer toekennings ryker na die onlangse ATKV-Tienertoneelkompetisie met die toneelstuk TERRA!

“Die Tienertoneel  se reis in 2021 was vol slaggate en baie teleurstellings. Ons moes die FAK se toneelfees misloop, daar was klokslag Covid-gevalle en ons moes nougeset hard oefen, al het ons nie geweet of die planne die volgende dag gaan verander nie.  Soos dit ware Nellies betaam het die nege akteurs en een verhooghulp met murg in hul pype bly vasbyt. Op 20 Augustus 2021 vertrek hierdie uitgelese groepie reeds 05:00 per bus, ten spyte van onluste en siekte en drama, om tog die skool met trots te verteenwoordig by die ATKV-Tienertoneelkompetisie. Tien ure se ry het hierdie uitgesoekte handjievol Nellies nie afgesit om hulle allerbeste te gee nie,” sê me. Frances van Niekerk (regisseur).

Die Nellies het hulle uitmuntend van hulle taak gekwyt. Die beoordelaars was baie beïndruk met hulle spel, die futuristiese minimalistiese stel en al die tegnologie wat gebruik is. Die leerders sou graag voor ’n groot gehoor wou optree, maar die Covid-19 regulasies het ’n stokkie daarvoor gesteek.

“Die ervaring om in ‘n regte-egte teater met hulle eie aantrekkamer en meer as genoeg spieëls was heerlik en opwindend. Die akteurs het die interaktiewe mentorsessie terdeë geniet en was nie op hulle monde geval nie,” sê me.Van  Niekerk.

Die reaksie op die drie silwer toekennings was baie positief. Ons is veral trots op Amenda Bunting, Graad 12, wat silwer vir haar individuele spel in TERRA verwerf het.

TONEELBESKRYWING:
Die toneel se naam is TERRA, wat afspeel in ‘n eksperimentele laboratorium in die jaar 2039. Die meisies en Madame Algebra is menslik, terwyl die boorlinge van TERRA uit  androïede en humonïede bestaan. Die mans is deur ‘n pes uitgewis. Die boorlinge verval in depressie en die meisies moet bontstaan om hulle weer gelukkig te maak.

Wat is die oplossing? Wie vind dit? En wat is die nadraai?

Kom vind self uit gedurende NHS se Kultuurweek!