06 Jul Eerste virtuele uitdaging ‘n groot sukses
Die afgelope naweek het 156 deelnemers die eerste virtuele uitdaging om te stap en hardloop, aanvaar. Altesaam 1 235km is deur hierdie deelnemers afgelê en daar is deur sewe Nasionale Parke gestap en gedraf. Die verste afstand wat deur ‘n individu afgelê is, is 33km. Die Kruger Nasionale Park was die voorkeur park vir die meeste deelnemers en 713km is daar afgelê.
NHS-leerders het loshande die meeste kilometres (376km) gedraf en kort op hulle hakke was die personeel met 283km. Die ouers het nie net die leerders ondersteun nie, maar ook deelgeneem. Hulle het altesaam 195km afgelê. Oud-Nellies, laerskoolleerders en ondersteuners waarvan die oudste deelnemer 71 jaar oud is, het saam 371km kafgedraf.
Mnr. DP Badenhorst sê: “Sommige deelnemers het vir die eerste keer sedert die inperking weer begin oefen en die eerste virtuele uitdaging is ‘n groot sukses.”
Die volgende uitdaging is in spanverband en bied almal die geleentheid om te kies tussen verskeie uitdagings soos hardloop, stap, fietsry, krag en sportspesifiek. Skakels na die verskillende uitdagings word later op sosiale media gedeel. Deelname is van Vrydag, 10 Julie om 12:00 en eindig Sondag, 12 Julie om 18:00.
Dit is nog nie te laat nie – jy kan enige tyd deel wees van die Nellies Active beweging. Neem net deel!