Eerste voorseisoen-skote klap op Witrivier

Eerste voorseisoen-skote klap op Witrivier

Artikel: Mnr. Kobus de Wet

Om die winterroes te gaan afskud, en hul peil van afrigting en fiksheid te toets, het heelwat  van NHS se atlete op 21 September die kans aangegryp om op die baan en veld van Hoërskool Rob Ferreira, hul slag te gaan toon. Benewens ‘n sterk NHS-verteenwoordiging, is die byeenkoms goed deur veral die tuisspan en atlete van Lydenburg, ondersteun. Daar is ook vir onder 13-items voorsiening gemaak, en ‘n hele paar indrukwekkende vertonings is ook deur dié juniors gelewer.

Wat die naellope betref, het Nelspruit se Lana Theron vroeg-vroeg al haar kleim afgesteek, toe sy die 100m in 13.02 sek. (778 ASA-punte) en 200m met ‘n tyd van 26.71 gewen het. Angelica Graham (m.19) se 13.07 in die senior naelloop, het vir seker ook die oog gevang.

Rob Ferreira se Mthekozisi Ndkovu (53.12) en Nellies se Stefan Coetzee (53.14) het vir groot opwinding in die 400m (s.17) gesorg. Ook die item vir s.19 was ‘n spannende wedloop, met Rob se Kgotso Machete (51.32) wat in die pylvak vir NHS se Kian Mouton (52.25) hakskene gewys het.

Nellies se langasems het weer bewys watter waarde ‘n goeie landloopseisoen vir atletiek inhou. Monique van Zyl (2:37.11) en Rebekkah Braack (2:39.58) het die 800m vir m.15 oorheers. In die wedloop vir m.17, het NHS-atlete die eerste VYF plekke ingeneem. Die wenner was Sheba Sithole (2:30.07), gevolg deur Janika van Staden (2:33.51) en Sofia Clark (2:46.01). Sheba se wentyd in die 1500m was 5:14.37. Anele Mkhonto het die 800m vir s.17 in ‘n tyd van 2:03.89 ingepalm.

Menzi Sheba moes in die 100m hekkies (s.15) die knie voor Rob F se Lizwe Mkhumane buig (13.99 teenoor 13.36), maar het in langer hekkies (300m) uitstekend gehardloop om eerste in 41.54 deur die wenpaal te bars.

Wat die spronge betref, was verspring vir seuns 15 gewis ‘n glasitem vir die atlete van NHS! Owen Ngwenya (6,37m); Menzi Sheba (6,34m); en Tye Habib (6,25m) het almal meer as 800 ASA-punte verdien, met afstande wat werklik van nasionale gehalte is. Janco Small (6,36m s.17) kan ook tevrede voel met sy afstand, so vroeg in die lente.

Dan is daar Zané Nel, Nellies se uithaler worpe-meisie wat voortaan die vlag ná die vertrekkende Ashley Erasmus, moet laat wapper. Zané is vir seker vinnig uit die blokke, soos haar afstande van 38,07m (skyfwerp, ‘n pb) en 13,08m (gewigstoot) in die afdeling vir meisies 15, bewys het! Ewe indrukwekkend, is Christene Venter (m.17), wat die 1kg-werpskyf op ‘n stewige 38,85m laat grondvat het. Sy wen ook die gewigstoot (11,28m).

Spiesgooier David Botha (s.17) staan na dese ook gewis in die kollig, nadat hy met ‘n wenpoging van 61,93m (830 punte) ook sy voorseisoen op geen ondubbelsinnige wyse nie, aangekondig het.

Van die ander blink vertonings, sluit in:
Liam Antunes (s.15): 100m – 11.71
Menzi Sheba (s.15): 100m – 11.76
Cherike Boshoff (m.17): 400m – 66.08
Ethan Green (s.15): 800m – 2:09.76; ook 1500m – 4:36.73
Rebekkah Braack (m.15): 1500m – 5:33.22
Nienke de Ruiter (m.17): 1500m – 5:32.35
Janika van Staden (m.17): 1500m – 5:38.52
Aldo van Jaarsveld (s.15): 100m hekkies – 15.24
Michelle Groenewald (m.17): 100m hekkies – 16.66
Rojandi Coetzee (m.15): hoogspring – 1,45m
Owen Ngwenya (s.15): hoogspring – 1,75m
Vicky J. van Vuuren (m.15): skyfwerp – 29,14m; ook gewigstoot – 10,76m
Dirk Joubert (s.15): skyfwerp – 47,73m; ook gewigstoot – 13,40m
Lulu le Roux (m.17, paralimpiese atleet): gewigstoot – 10,49m; ook skyfwerp – 28,41m; en spiesgooi – 28,00m
Diane vd Walt (m.15): skyfwerp – 26,86m
Mia de Clerck (m,15): spiesgooi – 28,76m
Lourica vd Merwe (m.17): spiesgooi – 30,05m
Jacques Bouwer (s.17): spiesgooi – 52,56m