Finsbury finaal wag op NHS o/15A-krieketspan

Finsbury finaal wag op NHS o/15A-krieketspan

Die o/15A-krieketspan kom hierdie week teen Hoërskool Menlopark in die Finsbury-reeks finaal te Hoërskool Nelspruit te staan.
Uit die ses wedstryde wat die span gespeel het, het hulle slegs een wedstryd teen Hoërskool Centurion met net 12 lopies verloor. Die krieketseuns beleef vanjaar ‘n goeie seisoen! Die staatmakerkolwers het deurlopend lopies op die telbord gesit en die boulwerk was aanvallend.
“Die span is entoesiasties en wys ‘n besonderse veggees tydens wedstryde. “Die span se oorwinnings kan toegeskryf word aan goeie spanwerk,” sê die afrigter, mnr. Xander Pintchers.
Dit is uitdagend om teen gedugte spanne soos Hoërskool Rustenburg, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Centurion, Potch Volkies en Hoërskool Waterkloof te speel, maar hierdie Nellies het hulle geleenthede benut en wedstryd vir wedstryd het die veld-, kolf- en boulwerk verbeter. Die span sien ywerig uit na die groot finaal.

Ouers en Nellie ondersteuners word hartlik uitgenooi om die wedstryd saam te kom geniet. Dit gaan ook regstreeks gestroom word op digitv.com

Foto’s: Hennie Homann