Goeie atletiekuitslae, ondanks vele uitdagings, op Potchefstroom

Goeie atletiekuitslae, ondanks vele uitdagings, op Potchefstroom

Die jaarlikse NWU Top 30 atletiekbyeenkoms wat verlede Vrydag en Saterdag 15 en 16 Oktober op Potchefstroom aangebied is, sal om meer redes as net ‘n sakvol blink uitslae onthou word! Die atlete het aldaar met die room van die noorde se atletiekkrag, asook versengende hitte én rukwinde waarteen deurentyd baklei moes word, te make gehad. Dit maak die mooi prestasies wat behaal is, nog meer prysenswaardig. In sommige gevalle het die naellopers en hekkiesatlete geglimlag oor ‘n gunstige wind van agter, maar verder het die wisselende windvlae van voor, asook lastige dwarswinde, sake erg bemoeilik.

NHS is, as erkenning van die skool se bewese atletiekvermoëns, in die A-afdeling ingedeel. Die  span, bestaande uit getroue staatmakers wat smiddae vir oefeninge aanmeld, het waarlik die stang vasgebyt en kan heel tevrede met hul vertonings voel. Uiteindelik behaal NHS ‘n baie goeie 7e plek uit die 18 spanne in die boonste afdeling. Met sy totaal van 44986 (seuns 21527; meisies 23459) eindig NHS bo erkende atletiekskole soos Zwartkop (44687), Dr. Malan (44665), Kemptonpark (44361), Randburg (43508) en Potch Gim (43364).

Die kompetisie is geskoei op die lees van gemiddelde ASA-punte wat behaal word. Dit was weer Ashley Erasmus (m.16) wat met puik punte van ‘n voltal van 1000 punte in gewigstoot (16,84m) en 974 punte vir skyfwerp (44,20m) bo die ander mededingers in haar ouderdomsgroep, uitgetroon het en die ankerrol in Nelspruit se totaal gespeel het. Onder die seuns, het Handré vd Merwe ook stewig in die afdeling vir seuns 17 vertoon, deur 882 punte (400m hekkies – 53.43) en 870 (110m hekkies -14.36) te verdien.

Gegewe die moeilike omstandighede, word graag erkenning gegee aan elke atleet wat daarin kon slaag om meer as 700 ASA-punte in hul onderskeie items te verwerf:

Meisies
Ashley Erasmus (m.16): gewigstoot – 1,84m (1000); ook skyfwerp – 44,20m (974)
Anja Venter (m.16): skyfwerp – 39,12m (898); ook gewigstoot – 11,29m (801)
Simoné Lourens (m.14): 90m hekkies – 14.29 (877); ook 300m hekkies – 49.56 (793)
La-Alizia Venter (m.17): gewigstoot – 13,43m (873)
Rhodé Nel (m.19): 200m – 25.20 (867); ook 100m – 12.23 (863)
Zané Nel (m.14): gewigstoot – 12,03m (859); ook skyfwerp – 30,29m (789)
Juané le Roux (m.14): gewigstoot – 11,55m (839)
Sheba Sithole (m.14): 800m – 2:23.84 (831); ook 1500m – 5:07.25 (765)
Tanya Pieterse (m.15): 400m – 60.81 (830)
Shanese de Clerck (m.16): hoogspring – 1,65m (810): ook verspring – 5,45m (776)
Zoë Cilliers (m.14): 200m – 27.07 (810); ook 100m – 13.10 (806)
Christine Venter (m.15): gewigstoot – 10,95m (800); ook skyfwerp – 28,61m (743)
Lalie Grobler (m.17): 200m – 27.23 (768); ook 100m hekkies – 16.25 (748)
Zané Potgieter (m.17): 200m – 27.27 (766); ook 100m – 13.42 (732)
Anushka Bothma (m.14): 100m – 13.44 (765)
Zané du Toit (m.15): 200m – 28.44 (728)
Elizma de Villiers (m.15): hoogspring – 1,55m (720)
Kristen Berry (m.16): 800m – 2:35.24 (706)

Seuns
Handré vd Merwe (S.17): 400m hekkies – 53.43 (882); ook 110m hekkies – 14.36 (870)
Hannes Botha (s.17): spiesgooi – 62,66m (841)
Marco Capazorio (s.17): 110m hekkies – 15.10 (800)
Ruben Vorster (s.16): 110m hekkies – 15.10 (800)
Marko Mathee (s.15): verspring – 6,22m (790)
Calum van Staden (m.15): 100m hekkies – 14.49 (780)
Ian Wood (s.15): 100m – 11.37 (778); ook 200m – 23.21 (762)
Karl Erichsen (s.16): skyfwerp – 42,32m (768)
Ricardo Correia (s.17): gewigstoot – 13,97m (768)
André Potgieter (s.17): 200m – 22.74 (765); ook 100m – 11.28 (756)
Hanlu Schoeman (s.14): 100m hekkies – 15.04 (756)
Ruan de Beer (s.15): 100m hekkies – 14.84 (750)
Janco Small (s.14): 100m – 11.89 (712)
Kian Mouton (s.16): 3000m – 10:25.67 (712)

Nog enkele goeie uitslae, sluit in:
Zoë Scheepers (m.15): hoogspring – 1,45m
Charné Strydom (m.16): spiesgooi – 32,62m
Joshua Fincham (s.14): 800m – 2:13.68
Hanlu Schoeman (s.14): 300m hekkies – 43.28
Jacques Bouwer (s.14): spiesgooi – 44,85m
Philip Vogel (s.17): hoogspring – 1,80m
André van Schalkwyk (s.16): 800m – 2:03.69