26 Oct Graad 10-Nelliespan verras
Tydens die onlangse finaal van die Con Spirito Debat wat by Hoërskool Marais Viljoen aangebied is, het Niandi Coetzee en Cornelis van Dyk in graad 10 verras deur die kompetisie vir gr.10-12’s te wen. Dié gedugte debatpaar, afgerig deur adv. Maritza Uys van Dyk, het ook vanjaar deurgedring na die ATKV-Debatfinaal.
Vier junior en 5 senior spanne van NHS het aan die semifinale rondte saam met 22 ander spanne op Vrydag 22 Oktober deelgeneem. Twee junior en twee senior spanne het Saterdag 23 Oktober deurgedring na die finaal. In die junior afdeling het Andelé van der Merwe en Nina Prinsloo teen ‘n span van Afrikaanse Hoër Seunskool te staan gekom wat uiteindelik eerste in die kompetisie geëindig het.
Pedrie Claassens en die bekkige Rohann Schultz moes meeding teen Helpmekaar Kollege. Die seniors, Conrad Joubert en Wikus van Biljon, het die seuns van Affies behoorlik laat bontstaan met hul pittige antwoorde. Niandi en Cornelis het met Hoër Meisieskool Paarl afgereken wat derde gekom het met Affies in die tweede plek.