Graskopkloof betower Natgeorisme-klub

Graskopkloof betower Natgeorisme-klub

Een van die nuutste besienswaardighede in die Laeveld is die Graskop Gorge Lifts. Die Natgeorisme-klub het dié juweel van die Panorama-roete besoek. Die klublede het vroeg die oggend van NHS vertrek en het eerste by die asemrowende Lone Creek waterval ‘n draai gemaak. Na ‘n 200m-wandeling deur die betowerende reënwoud kon hulle die waterval wat 68 meter hoog is, besigtig. Hierdie waterval het ook nasionale monumentstatus. Hier het die besoekers die vroegoggend son wat deur die plantegroei skyn en die waterval met ‘n pragtige reënboog aanskou – prentjiemooi!

By die Graskopkloof het hulle met die 51 meter glashysbak tot aan die onderkant van die kloof gesak. Hierdie natuurliefhebbers het die hangbrugpaadjies gevolg en die steil, rotsagtige mure bewonder en die waterval en bome verken. Al langs die roete is inligtingsborde wat interessante informasie oor die omgewing verskaf. Terug bo, het hulle die uitsig oor die Laeveld vanuit die restaurant besigtig. ‘n Gastehuis-eienaar, mnr. Robbie Pretorius van Zebrina Gastehuis het ook ‘n insiggewende praatjie oor toerisme tydens middagete met die groep gedeel. Die uitstappie het die leerders se toerisme-ervaring na nuwe hoogtes geneem.