05 May HEROPENING VAN HOËRSKOOL NELSPRUIT
Die Minister van Basiese Onderrig, me. A Motshekga, het pas maatreëls aangekondig in sake die heropening van skole tydens fase 4 van die inperkingsperiode. Sy het aangedui dat die graad 12 leerders op Maandag 1 Junie begin en dat die ander grade ingefasseer sal word. Geen verdere datums is bekend gemaak nie. Sy het egter onderneem om ‘n nuwe skoolkalender, vir die res van 2020 te publiseer na gesprekvoering met die kabinet. Die personeel van die skool sal egter volhou met die digitale onderrig vir al die leerders wat nog nie tot die skool toegelaat word nie.
Hoërskool Nelspruit ontvang dus graag die matrikulante op Maandag 1 Junie om 07:30 by die skool. Leerders wat koshuise toe kom is welkom om Sondag 31 Mei na 14:00 koshuis toe te kom. Koshuisvaders sal met u hieroor kommunikeer.
Die veiligheid en gesondheid van die leerders en personeel is die hoogste prioriteit vir die Beheerliggaam en Skoolbestuur. Ons volgende prioriteit is natuurlik die suksesvolle afhandeling van die skoolkurrikulum van 2020 en die gepaardgaande voorbereiding van ons leerders vir die eksamens aan die einde van die jaar.
Om hierdie doelwitte te laat realiseer geld die volgende reëlings:
- U is welkom om u graad 12 kind(ers) skooltoe te stuur indien hy/sy gesond is. Indien u kind egter enige simptome van die Covid-19 virus toon, of die afgelope tyd in kontak was met iemand wat positief getoets is vir die virus, moet u asb. u kind by die huis hou en mediese hulp reël. Indien u daarna seker is dat u kind gesond is en nie die virus kan oordra nie, stuur hom/haar skooltoe.
- Indien u agter kom dat u kind gespanne of angstig is of dat sy/haar gemoedstoestand u bekommer, maak gerus kontak met me. Hannalize Coetzee, die opvoedkundige sielkundige by die skool.
- Die hoofhek sal bedags tussen 08:00 en 12:30 gesluit wees. Indien u die skoolterrein in daardie tyd wil betree, sal van u verwag word om ‘n register in te vul. Verder moet u ook bereid wees dat u koors geneem sal word. Indien u koors bo 380C is, sal u nie op die terrein toegelaat word nie. U is egter welkom om u kind voordat die skool begin af te laai en sodra die skool uitkom weer op te laai, sonder dat die siftingsproses op u toegepas word. Ons versoek u egter om in u voertuig te bly sit terwyl u wag vir u kind.
- Die hekkie tussen die hoër- en Laerskool sal gesluit word tot verdere kennisgewing.
- Ons versoek u om u kind te voorsien van ‘n masker wat hy/sy kan dra terwyl hulle by die skool is. Maskers in die skool se kleure en met die skoolwapen op sal te koop aangebied word by CK@NHS. Die koste daarvan beloop R35.00. Dit is raadsaam om u kind ook van ‘n goeie handontsmettingsmiddel te voorsien wat by die skool gebruik kan word soos dit benodig word.
- Die personeel van die skool sal ook elke dag gemonitor word voordat die skooldag begin. Hulle sal ook maskers of veiligheidskerms dra en die nodige higiëne sal gereeld toegepas word om die verspreiding van die virus te verhoed.
- Die kleedkamers van die seuns en dogters sal, soos ander gesamentlike areas daagliks ontsmet word.
- Daar sal ook fasiliteite beskikbaar wees waar leerders wat by die skool siek word of simptome van die Covid-19 virus vertoon, geïsoleer kan word. Die betrokke ouer sal onverwyld geskakel word sodat u, u kind so spoedig moontlik kan kom haal en hom/haar kan versorg of mediese behandeling kan reël.
- Koshuisvaders sal met koshuisouers kommunikeer oor die maatreëls wat by die koshuise sal geld ten einde die koshuise teen die virus te beveilig.
- Indien ‘n leerder siek is of dalk geïsoleer word, sal hy/sy steeds die akademiese inligting digitaal op Google Classroom of per whatsapp by een van die klasmaats kan bekom.
- Sodra daar meer inligting en sekerheid is, sal duidelike reëlings aan u deurgegee word ten opsigte van die buitemuurse program van die skool. Die hoofoorweging sal egter steeds die veiligheid en gesondheid van ons Nellie-gemeenskap wees.
Baie dankie aan al die ouers wat soveel moeite gedoen het om die skool en u kinders die afgelope grendeltyd te ondersteun. Die personeel is daarvan oortuig dat die leerders wat self gewerk het en deel was van die afstandsonderrigprogram, die vrugte daarvan sal pluk.
Die betaling van skoolgeld is van kardinale belang. Dankie dat u steeds bereid is om u skoolgeld te betaal – dit bring mee dat ons steeds gehalte onderrig aan u kind kan bied, te midde van die uitdagings van die dag.