15 Sep HHD se BK ingehuldig
Maandagaand 7 September is die nuwe leiers van Huis Hermann Davin met die tradisionele swaardoplegging ingehuldig. Die seuns se ouers is ook genooi en dit was ‘n voorreg om hulle almal teenwoordig te hê.
Die Yskor-voogde wat as mentors vir volgende jaar se graad 8’s optree, was eerste aan die beurt. Die voogde is Rijk de Kock, Richardt Lemmer, Stefan Luus, Ruan Pretorius en Henru Stiglingh.
Die nuwe brouer, Alexander Georghiades, is ook ingehuldig en het sy seremoniële voorskoot van Jan van den Bergh, die uittredende brouer, ontvang. Dit is die taak van die brouer om met sy werk in die brouhuis die ou manne gemotiveerd en in goeie luim te hou.
Die verteenwoordigende koshuisraad is daarna ingehuldig. Hulle is Henno de Beer (Yskor), Dawie van Heerden (Manana), Werner Geldenhuys (Amor), Frederik Nel (Pezulu), Christiaan Gates (Gate Toe) en Henko de Nysschen (Apollos). Die nuwe adjunk-dux, Gerhard Venter, het sy tossel van Waldo Stoltz, sy voorganger, ontvang waarna Jayden Joubert die sermoniële rammer aan HHD se nuwe dux, Keenan Visser, oorhandig het.
Baie geluk aan elkeen van hierdie manne. Om voor te loop in Huis Hermann is ‘n voorreg!