HIEP HIEP HOERA – HUIS MARÉ VERJAAR!

HIEP HIEP HOERA – HUIS MARÉ VERJAAR!

Die graad 12-meisies wat in Huis Maré woon, het Donderdag 13 Augustus dié tuiste se 60ste verjaarsdag gevier. Die dogterskoshuis op Hoërskool Nelspruit se skoolterrein is op 1 Augustus 1960 in gebruik geneem.

Alhoewel die dag nie soos in die verlede deur die hele koshuis gevier is nie, het dit tog nie ongesiens verbygegaan nie. Matrone Anel Louw het die pragtigste verjaardagkoek gebak en die meisies kon heerlik hieraan smul.

Huis Maré is ‘n spesiale plek wat diep gekoester word in baie Nellies se harte. Dit was ‘n droom van die stigters dat Huis Maré altyd ‘n waardige tweede tuiste vir die meisies sal wees. Hulle het ook met verwagting gehoop dat die goeie gesindheid en dissipline nog baie lank gehandhaaf sal word.

Die klas van 2020 sal saamstem dat alhoewel die jaar nie verloop het na wense nie, is die koshuis nog steeds soos ‘n tweede ouerhuis waar die tradisies met trots uitgeleef word.