
02 Sep Hoërskool Nelspruit en die Laeveld-gemeenskap groet ‘n legende
Dit is met groot skok, en die diepste leedwese, wat ons op Sondag 1 September, van ons geliefde en geëerde oom Hendrik Strydom se afsterwe verneem het. Die mees majestueuse kremetart, die een na wie met die grootste eerbied en bewondering opgekyk is, het ons op ‘n geseënde en ryp ouderdom, ontval.
Vir NHS, en sekerlik ook die hele Nelspruit-gemeenskap, was oom Hendrik met sy kenmerkende blymoedigheid en optimisme, ‘n anker van standvastigheid in ‘n ewig-veranderende wêreld. Sy onwrikbare geloof in sy Skepper, onverbloemde liefde vir sy medemens, en liefdevolle lojaliteit teenoor sy familie, vriende en ander hartsmense, was vir die bevoorregtes met wie oom Hendrik se aardse pad gekruis het, ‘n onverbeterlike voorbeeld en inspirasie.
Soos sy geliefde Bloubulle toe nie vanjaar die eindstryd kon haal nie, is oom Hendrik se 2019 ook op lentedag, vroegtydig beëindig. Ons harte is seer, maar ons weet dat oom Hendrik se aanbreek van die ewige lente, vir hom ‘n baie spesiale plek in Sy koninkryk beteken. Rus sag, oom Hendrik, ons salueer u met harte vol liefde, eerbied en net die grootste agting.
NHS spreek dan ook sy opregte meelewing met die familie en vriende uit. Mag u troos vind in die legio aangename en mooi herinneringe aan oom Hendrik, wat ons almal met ons sal saamdra