Hoërskool Nelspruit Redenaars praat land en sand

Hoërskool Nelspruit Redenaars praat land en sand

Hoërskool Nelspruit se redenaars het vanjaar weereens tydens die ATKV se  redenaarskompetisie  bewys dat die Nellies kán praat.

Ses en twintig redenaars van NHS het op 11 April by Hoërskool Generaal Hertzog aan die eerste ronde van die redenaars aan ses verskillende kategorieë deelgeneem.  Sestien Nellies het deurgedring na die semifinaal wat op 31 Mei in Middelburg plaasvind.

Die volgende sewe juniors het sukses gesmaak en deurgedring na die semifinaal. In die junior voorbereide afdeling het Niandi Coetzee in graad 8 aangevoer dat Suid-Afrikaners praat die waarheid snaaks – en niemand lag nie…  Katrien Hiemstra in graad 9 se onderwerp dat  Afrika-koninginne van drama se spieëlbeeld breed glimlag het die toeskouers hardop laat skater van die lag. Anke Oelofse ook in graad 9 het aangevoer dat nie alle deure handvatsels benodig nie en Jeanne Strydom (graad 9)  het gesê dat dis nou maar wors, ‘n krisis in die onderwys is op hande!  Twee juniors Conrad Joubert in graad 9 en graad aggie, Cornelis van Dyk het in die onvoorbereid afdeling die gehoor beïndruk met hulle spitsvondige opmerkings oor beurtwater. Nuweling redenaar, Anthony Mabuza in graad 9 het in die junior addisionele taal afdeling beïndruk met sy toespraat dat rugby vir ‘n mens baie deure oopmaak.

Die seniors het ook nie op hulle laat wag nie en Naomi van der Nest in graad 10 se onderwerp moordverhore het ‘n magnetiese aantrekkingskrag, Melissa Bezuidenhout (graad 11) se skinderstories se magnetiese aantrekkingskrag veroorsaak net moeilikheid, Chanté Hurter (graad 12) se ‘n goeie navigator hou ‘n wakende oog op die eindpunt gerig en Dawie van Heerden (graad 11) se woorde is ons navigasiestelsel het hulle sukses laat smaak in die voorbereide afdeling vir seniors.

Die graad 11’s Mia Dentan, Jana Ingwersen en Ernst Pieterse het hulself laat geld in die senior onvoorbereide afdeling en kon ook suksesvol deurdring na die semifinaal.

Amenda Bunting en Siné Repinga, albei in graad10, het in die voorbereide afdeling vir addisionele taal hulle besonder goed van hul taak gekwyt  deur onderskeidelik te sê dat tieners hulself al slingerende navigeer in die verkeerde rigting en ons toue is besig om los te torring in Suid-Afrika.

Hierdie klompie gladde bekke ding mee met die res van Mpumalanga se redenaars in die semifinaal om na die gesogte finaal van die ATKV Redenaars in Goudini te gaan.