29 Jul Hoërskool Nelspruit vier 69ste verjaarsdag
Dinsdag, 29 Julie het NHS sy 69ste bestaansjaar gevier. Teneil le Roux (Graad 12: Kultuur Dux) het hierdie toespraak tydens saalopening gedeel:
“NHS is vandag 69 jaar oud! En met 69 jaar kom daar baie geskiedenis saam. Na ‘n lang soektog het ek ‘n paar interessante feite oor NHS kon opgrawe.
Soos byvoorbeeld:
Juffrou Des Hattingh en Mnr. Johan Hattingh is al bymekaar vanaf hulle universiteitsjare (1979). Wat beteken dat ons skoolhoof en sy vrou al saam is vir 42 jaar!
Hulle het aan die einde van 1985 getrou en in 1986 het hulle albei by NHS begin werk. Dit beteken Juffrou Des en Mnr Hatting is al hier vir 35 JAAR!!!Aangesien Juffrou Des nog my vraestelle moet merk, het ek net gevra hoe lank sy al hier is en nie hoe oud sy is nie. Jy vra mos nie ‘n vrou haar ouderdom nie?
Maar Juffrou Des en Mnr. Hattingh kom slegs tweede in wie die langste al by die skool is, want Juffrou Erna Jansen van Rensburg, ons eie Gordon Ramsy in die gasvryheidsklas, is al van 1985 hier, wat beteken sy werk al by die skool vir 36 jaar. Volgens haar is sy, Juffrou Winterbach, Mnr. Hattingh en Juffrou Des die 4 dinosourusse van die skool.
Juffrou Erna se stowe was 11 jaar voor haar aankoms by die skool al hier, wat beteken haar stowe is 46 jaar oud. Sy het net al twee van die stowe vervang en dit was sowat 2 jaar terug. Sy tree op as haar eie mechanic en maak self haar klas se stowe reg.
Soos ons almal weet was ons skool in 1916 gestig, maar die hoërskool en laerskool het eers in die jaar 1952 geskei en die bekende naam van HOËRSKOOL NELSPRUIT het toe amptelik ontstaan.
In my navorsing het ek vir Tannie Lettie Schoeman in Schoemanskloof gevind wat 84 jaar oud is. Sy bly al haar hele lewe lank hier in die Nelspruit gebied. Ons het ‘n onderhoud met haar gevoer om so bietjie van haar tyd by Nelspruit as ‘n skool te praat.
Luister hier na ‘n kort klankgreep van die onderhoud.
Ter afsluiting: Hierdie is feite. NHS se verlede.
Ons is wel NOU die toekoms, maar oor ‘n paar jaar is ons in die nuwe generasie se oë die geskiedenis. Nie net van NHS nie. Tyd stap aan, maar moenie laat dit vir jou weghardloop nie.
Hierdie is my advies aan elkeen van julle vandag. Gebruik jou tyd. Trap jou spore diep met liefde vir jouself, jou medemens en vir God.”