Huis Mare bied ‘n spoggerige Dinee aan

Huis Mare bied ‘n spoggerige Dinee aan

Die dames met finesse het Woensdag 19 Oktober hulle jaarlikse dinee en prysuitdeling geniet. Tydens hierdie spoggeleentheid is daar ook afskeid van die graad 12-inwoners geneem .

Twee spesiale eregaste, Maretha van Wyk en Coenie Naude, het ook die dinee bygewoon. Oud-Nellie Maretha van Wyk (Koshuis-Dux 2012) het die toekennings uitgedeel en waardevolle advies met die skoolverlaters gedeel. Sy het ook namens die klas van 2012 ‘n geskenk aan die matrones oorhandig.

Die ander spesiale gas, ook ‘n oud-Nellie, Coenie Naude (2011) het die dames vermaak met sy eie musiektreffer, Reënboog en die bekende liedjie, Lelie Blou van Spoegwolf. Hy het onlangs sy debuutalbum by Van Coke Studios opgeneem en dit is in Julie by Blue Gate bekendgestel.

Me. Retha Smit (koshuisvoog) het ‘n pragtige boodskap met die matrikulante gedeel wat paslik geëindig het met die bekende Time to say Goodbye en ‘n enorme omhelsing.

Die graad 10’s in spoggerige kelnerklere en hulle ouers het baie hard gewerk om die saal met ekstra finesse te versier en heerlike kos voor te sit. Dit was ‘n baie spesiale geleentheid wat nog lank onthou sal word.