Interhoër 2022: Nellies nogeens stewig op die kruin!

Interhoër 2022: Nellies nogeens stewig op die kruin!

Om die jaarlikse atletiek-interhoër op eie bodem te kan wen, en op die koop toe dalk nog ‘n medalje of twee te kan verower, is ‘n droom vir talle atlete –  en dit het Saterdag 27 Februarie 2022 vir NHS se bul van ‘n atletiekspan, ‘n heerlike werklikheid geword! Die Buco Laeveld Vriendskaplike Interhoër was gewis ‘n skouspel van spoed, krag, soepelheid, klank en kleur, wat sekerlik vir baie, baie jare onthou sal word. Dit het fyn beplanning en vasbyt gekos om, te midde van Covid-beperkinge en ook swaar reën die vorige nag, ‘n uiters suksesvolle byeenkoms te kon deurvoer – tot die laaste twee items wat waarlik die kroon gespan het: die 4x100m aflos vir seuns en meisies 19, wat op skitterende wyse deur Nellies se snellers ingepalm is.

Daar is allerweë verwag dat vanjaar se stryd tussen NHS, Rob Ferreira en Lydenburg, fel sou wees. Dit was dan ook die geval, met Nelspruit se seuns wat harde bene teen die manne van Rob gekou het! Uiteindelik het NHS se groter diepte, wat  veral velditems betref, die deurslag gegee en hulle wen die seunstrofee met 790 punte, teenoor Rob Ferreira se 681 en Lydenburg se 602. Nellies se meisies het weer eens getoon dat hulle een van die sterkste meisiespanne in die land is, toe hulle die trofee met meer as 200 punte voor hul naaste teenstanders, verower het. NHS se totaal van 854 (teenoor Lydenburg se 645 en RF se 615) vertel die hele verhaal. Die trofee vir wenspan vir 2022 (algeheel) gaan dan vanjaar, vir die 57ste agtereenvolgende keer, aan Hoërskool Nelspruit (1644), met Rob Ferreira (1296) as naaswenners en Lydenburg (1247) in die derdeplek. Barberton het beïndruk met die wyse waarop hulle enduit geveg het, en kan baie tevrede wees met ‘n stewige vierdeplek (780), voor Lowveld High (708), Bergvlam (683) en Penryn College (505).

Die verminderde getal toeskouers op die pawiljoen, het natuurlik ‘n reuse taak gehad om hul spanne deur die dag te dra en met hulle sang, drag en gedrag, ook daar die beste voet teen die ander deelnemende skole, voor te sit. NHS kan tereg baie trots wees op sy energieke, hardwerkende en dinamiese dirigente en hul ‘span agter die skerms’, wat nooit die pas verslap het nie. Uiteindelik is hulle dan ook as beste dirigentespan van die dag aangewys, met Bergvlam se dirigente in die tweede- en Lydenburg s’n in die derdeplek. Nelspruit kry ook die toekenning vir beste opkoms, en Stefan Veldsman word bekroon as beste NHS-dirigent van die byeenkoms. In die afdeling vir ‘kreatiewe liedjie’, was Bergvlam die wenner, met NHS tweede en Barberton ‘n gewilde derdeplek.

Jaarliks word die beste atlete (junior en senior, seuns en meisies) met die gesogte Victrix- en Victor Ludorum toekennings vereer. Hierdie prestige-toekennings word oorhandig aan die atleet wat in sy/haar beste drie items, die meeste ASA-punte ingesamel het.  Nellies is vanjaar bevoorreg om al vier hierdie trofeë, te kon wen! Baie geluk aan Simoné Lourens (junior Victrix), Vaughn van Zyl (junior Victor), Ashley Erasmus (senior Victrix) en Handré vd Merwe (senior Victor).

‘n Spesiale trofee, word jaarliks ook aan dié seun en meisie wat die beste prestasie van die dag behaal het, oorhandig. Onder die manne, was Vaughn van Zyl in ‘n klas van sy eie, toe hy die skyfwerp vir seuns 15, met ‘n uitstekende gooi van 56,35m (915 ASA-punte) ingepalm het.

Wat kon NOG oor die fenomenale Ashley Erasmus gesê en geskryf word? Ashey het vroeër vanjaar Zonnika Lindeque se SA-rekord in gewigstoot m.17 (18,18m) na ‘n wêreldklas 18,65m verbeter – en almal was gaande oor daardie ongelooflike prestasie – veral omdat dit ook ‘n Afrika- en State-bond-rekord was. Wel, Ashley het haar allerbeste, vir haar tuisveld en tuisgemeenskap gelos! Saterdag trek sy los met ‘n magtige en kragtige stoot van 19,05m – wat wéér alle rekords oortref!

Die beste afstand vanjaar, deur enige atleet, in enige land ter wêreld, en dit in die Laeveld, voor haar tuisskare. Wat ‘n voorreg! Hiermee het sy die maksimum van 1000 punte verwerf. Net om doodseker te maak dat sy die gesogte trofee huis toe neem, het Ashley ook in skyfwerp (49,41m, ‘n nuwe pb en Nellie-rekord vir haar) ‘n voltal van 1000 aangeteken. Hierdie innemende, beskeie en rolmodel-atleet, verdien al die eer wat sy reeds ontvang het, en wat D.V. nog op haar wag.

Die seun en dogter wat in elke item/afdeling die beste prestasie (volgens ASA-tabel) gelewer het, is ook met ‘n toekenning beloon. Geluk aan die volgende Nellies, wat hierdie groot prestasie vermag het:
Naellope –  Zoë Cilliers (m.14): 100m
Middelafstande – Sheba Sithole (m.15): 800m
Kort hekkies – Simoné Lourens (m.14): 90m hekkies
Lang hekkies – Zané Potgieter (m.19): 400m hekkies; en Handré vd Merwe (s.19): 400m hekkies
Driesprong – Shanese de Clerck (m.17)
Verspring – Shanese de Clerck (m.17): en Marko Matthee (s.16)
Hoogspring – Shanese de Clerck (m.17)
Gewigstoot – Ashley Erasmus (m.17): en Vaughn van Zyl (s.15)
Skyfwerp – Ashley Erasmus (m.17); en Vaughn van Zyl (s.15)
Spiesgooi – Jolanke van Zyl (m.19)

Die hoë standaard van afrigting, fiksheid en wilskrag wat NHS se atlete deurentyd gewys het, word duidelik gesien in die groot medalje-oes wat ingesamel is. Wat verder opvallend is, is dat talle atlete ‘n goue drie- of tweekuns behaal het. Dit wil gedoen wees! Maar, een baie besonderse dame, wat vir seker haar naam voor dié van al die baie uitblinkers verdien (wat medaljes betref), is Zané Potgieter. Hierdie spog-atleet het in AL die wedlope waaraan sy deelgeneem het, 4 individueel en 1 aflos, goud losgehardloop!! Zané (m.19) wen die 100m – 12.73 (768); 200m – 26.61 (773); 400m – 62.03 (766); en die 400m hekkies – 67.42 (823). In die laaste item van die dag, verower sy goud nr.4 toe sy die in laaste been van die 4x100m aflos, onder die res uitgenael het om eerste verby die wenstreep te blits. Vyf goues – wat ‘n prag-prestasie om in jou matriekjaar te behaal!

NHS se ‘trippeldoor’-kampioene (DRIE goue medaljes elk):
Ashley Erasmus (m.17): gewigstoot – 19,05m (1000); ook skyfwerp – 49,41m (1000); en spiesgooi 37,22m (762)
Hayley Cussons (m.15): 3000m m.19 – 11:38.24 (779); 800m .16 – 2:34.32; en 1500m m.16 (5:29.06)
Shanese de Clerck (m.17): hoogspring – 1,70m (850); verspring – 5,60m (784); en driesprong – 11,27m
Simoné Lourens (m.14): 90m hekkies – 14.77 (825): 300m hekkies – 48.17 (822); en 400m – 62.13 (798)
Kristen Berry (m.17): 800m – 2:24.38 (785); 1500m – 5:15,00; en 400m – 63.34 (757)
Kian Mouton (s.17): 3000m – 9:57.62 (743): 800m – 2:02.37; en 1500m – 4:31.56

Die lys van atlete wat ‘n goue tweekuns behaal het, is ewe indrukwekkend;
Juané le Roux (m.15): gewigstoot – 11,18m (809); en skyfwerp – 31,09m (787)
La-Alizia Venter (m.19): gewigstoot – 11,67m (849); en skyfwerp – 32,00m (745)
Sheba Sithole (m.15): 800m – 2:23.75 (805); en 1500m – 5:10.11 (722)
Zoë Cilliers (m.14): 100m – 12.74 (828); en 200m – 26.90 (812)
Christine Venter (m.16): gewigstoot – 11,96m (829): en skyfwerp – 30,98m (769)
Zané Nel (m.14): gewigstoot – 12,45m (876); en skyfwerp – 31,84m (816)
Vaughn van Zyl (s.15): gewigstoot – 15,48m (860); en skyfwerp – 56,35m (915)
Vian Louw (s.14): gewigstoot – 13,49m (774); en skyfwerp – 38,36m
Joshua Fincham (s.15): 800m – 2:11.50; en 1500m – 4:40.53
Nathan Duncan (s.16): 800m – 2:03.45; en 1500m – 4:35.91
Marno du Plessis (s.16): 100m – 11.23 (748); en 200m – 22.65 (776)
Cherike Boshoff (m.16): 100m – 13.32 (732); en 200m – 27.04 (780)

Nog NHS-atlete wat 2022-interhoërkampioene is:
Violet Taljard (m.15): spiesgooi – 34,39m (735)
Marné vd Merwe (m.16): 400m hekkies – 74.90 (740)
Levandi Hough (m.14): verspring – 4,86m
Arili Boshoff (m.17): 100m – 13.17 (737)
Menique van Zyl (m.14): 800m – 2:31.62 (746)
Rojandi Coetzee (m.14): hoogspring – 1,58m (800)
Lallie Grobler (m.19): 100m hekkies – 16.70 (724)
Helene Barnard (m.16): spiesgooi – 27,34m
Kaycee Fincham (m.14): 1500m – 5:26.09
Simoné Froneman (m.16): 100m hekkies – 17.67
Jolanke van Zyl (m.19): spiesgooi – 38,33m (780)
Zoë Scheepers (m.15): hoogspring – 1,40m
Lana Botha (m.15): 400m – 64.33 (756)
Zané du Toit (m.16): 400m – 64.06 (740)
Handré vd Merwe (s.19): 400m hekkies – 53.49 (912, rekord)
Ruben Lorist (s.17): skyfwerp – 41,64m (748)
Monkwe Kamagelo (s.14): verspring – 5,53m
André Potgieter (s.19): 100m – 10.91 (756)
Marco Capazorio (s.19): 110m hekkies – 15.15 (795)
Ruben Vorster (s.17): 110m hekkies – 15.03 (790)
Ryan Venter (s.17): gewigstoot – 14,99m (814)
Liam Doncaster (s.14): 1500m – 4:48.58
Marko Matthee (s.16): verspring – 6,58m (836)
Ricardo Correia (s.19): gewigstoot – 13,87m (762)
Jacques Bouwer (s.15): spiesgooi – 48,13m
Bradley Claasen (s.16): gewigstoot – 13,60m (755)
Lian Antunes (s.14): 400m – 55.02 (721)
Philip Vogel (s.19): hoogspring – 1,85m
Larise Combrink (m.19): verspring – 5,26m
Andreas Fouché (s.19): skyfwerp – 38,49m (750)

Nou is die Nellies volstoom op pad na die Super Interhoër van 2 Maart, waar ‘n nog steiler berg wag om geklim te word: Dr.Malan, Klerksdorp, Noordheuwel, Montana, Potch Gim, Randburg en Rustenburg. Met die Laeveld-kruin stewig in die sakkie, is ons vol vertroue dat dit goed sal gaan en sien reikhalsend uit na hierdie week se uitslae!

Artikel: Mnr. Kobus de Wet
Fotograaf: Hennie en Handré Homann | www.hhphotoxpress.co.za

Die 72ste Interhoër is met trots geborg deur BUCO.