Interhuis 2023: Kookwater-atletiek in snikhete weer!

Interhuis 2023: Kookwater-atletiek in snikhete weer!

Vanjaar se interhuis-atletiekbyeenkoms wat op Donderdag 19 Januarie by NHS plaasgevind het, sal vir seker onthou word as een wat, weens die versengende hitte, groot uitdagings aan atlete, beamptes en toeskouers gestel het. Elkeen wat iewers sy of haar deel tot die dag se sukses bygedra het, verdien waarlik ‘n pluimpie vir Nellie-‘guts’ in aksie! Daar is ondanks die moeilike omstandighede, met mening op en van die pawiljoene, entoesiasties meegedoen en deelgeneem.

Wat die gesogte spantrofeë betref, het veral die Spartane en Atheners mekaar vanjaar behoorlik vasgevat. Hulle het deur die dag, binne trefafstand van ‘n wentotaal gebly. Die Spartane se seuns het uiteindelik daarin geslaag om ‘n skrale voorsprong te behou, en eindig die byeenkoms met 770 punte, 20 punte voor die Atheners, met die Trojane (622) in die derde posisie. Die Atheners se meisies het egter die wa deur die drif getrek, deur eerste (777) te kom, gevolg deur die Spartane (596) en die Trojane (493). Hulle voorsprong was groot genoeg, om die spantrofee (gesamentlik) vir 2023 aan die Atheners (1527) te besorg. Die Spartane was waardige naaswenners met 1366 punte, met die Trojane op 1115 punte in die derdeplek. Na ‘n uitputtende dag, is die Spartane as wenners van die geesbeker aangekondig.

Vier individuele trofeë is vir beste prestasies van die dag, junior (ouderdomme 14 en 15) en senior (16, 17 en 19),  toegeken:
Junior seuns:  Menzi Shiba (100m hekkies, s.15 – 14.17, 791 ASA-punte)
Senior seuns:  Divan de Kock (gewigstoot, s.16 – 16,45m, 845)
Junior meisies: Zoë Cilliers (100m, m.15 – 12.51, 845)
Senior meisies: Ashley Erasmus (skyfwerp, m.19 – 50,93m, 1000. Sy het ook in gewigstoot – 16,33m, 1000 punte verdien.

Die gesogte Victor en Victrix Ludorum- trofeë vir beste atleet in elke ouderdomsgroep, het ‘n paar aangename verrassings opgelewer. ‘n Atleet se beste drie vertonings (vir sy/haar span) is volgens die ASA-tabel bepunt, en dan getotaliseer. Vanjaar se wenners is:
s.14: Luan Burger
m.14: Lana Theron
s.15: Menzi Shiba
m.15: Zoë Cilliers
s.16: Vaughn van Zyl
m.16: Azelle du Preez
s.17: Callum van Staden
m.17: Zané du Toit
s.19: Ryno Meyer
m.19: Ashley Erasmus

Al is die nuwe seisoen nog net enkele weke aan die gang, is daar meer as genoeg statistieke beskikbaar om meer insig in Ashley Erasmus se puik prestasies te gee. Verlede jaar is die Wêreld Junior Kampioenskappe in Kolombië aangebied, en daar het Suid-Afrika se Miné de Klerk, wat tans in die VSA studeer, die goue medalje in gewigstoot (17,19m) ingepalm. Slegs twee ander atlete kon daar verder as 16m haal, wat beteken dat Ashley (met die 16,33m wat sy Donderdag gestoot het) sterk om die bronsmedalje sou meegeding het! Hierdie afstand sou Ashley verlede jaar nr.3 in die RSA gemaak het – alle ouderdomsgroepe ingesluit. Vanjaar, het nog net veteraan-atleet, Ischke Senekal van die Oostelike Provinsie (17,44m) verder as Ashley gestoot. En, Miné het op háár eerste byeenkoms vir 2023, slegs 15,65m aangeteken. In skyfwerp, is Ashley met haar 50,93m nou gesamentlik tweede in die land vir 2023, na Senekal se 53,33m. Riëtte Heyns van die Vrystaat, het ook verlede week 50,93m gegooi. Ashley word dan ook die eerste meisie in Mpumalanga se atletiekgeskiedenis vir skole–atlete – en so ook, die Laeveld – wat die 4kg-gewig verder as 16m kon stoot, en die werpskyf oor die 50m-merk kon laat grondvat. Welgedaan!

Benewens Ashley se bederf-prestasies, moet gewis melding gemaak word van die talle atlete wat daarin kon slaag om te midde van die verlammende Laeveldson, 800 ASA-punte of meer, vir hulle prestasies te verdien. Baie geluk aan:
Zané Nel (m.15): gewigstoot – 12,60m (867); en skyfwerp – 34,95m (850)
Zoë Celliers (m.15): 100m – 12.51 (845); en 90m hekkies – 14.40 (820)
Lana Theron (m.14): 100m – 12.93 (802); en 200m – 26.66 (825)
Sheba Sithole (m.16): 3000m – 11:29.23 (800)
Simoné Lourens (m.15): 90m hekkies – 14.50 (812); en 300m hekkies – 48.43 (807)
Diané vd Walt (m.14): gewigstoot – 10,73m (804)
Christine Venter (m.17): gewigstoot – 11,55m (800); en skyfwerp – 35,42m (827)
Anja Venter (m.19): skyfwerp – 35,78m (804)
Divan de Kock (s.16): gewigstoot – 16,45m (882): en skyfwerp – 47,14m (832)
Menzi Shiba (s.15): verspring – 6,28m (808)
Vian Louw (s.15): gewigstoot – 14,23m (803)
Vaughn van Zyl (s.16): gewigstoot – 14,60m (801)

Gegewe die uiters bedompige weer wat prestasies bemoeilik het, moet sekerlik ook van nog ‘n paar baie goeie vertonings (bo 750 ASA-punte) kennis geneem word.
Lana Theron (m.14): 300m hekkies – 49.59 (793)
Angelica Graham (m.19): 100m – 12.74 (767)
Zoë Cilliers (m.15): 200m – 27.09 (789); en 400m – 63.09 (781)
Simoné Lourens (m.15): 400m – 64.16 (759)
Vicky J. van Vuuren (m.15): gewigstoot – 10,63m (786)
Anja Venter (m.19): gewigstoot – 10,36m (792)
Shanré Ehlers (m.16): skyfwerp – 30,82m (752)
Menzi Shiba (s.15): 100m hekkies – 14.17 (791)
Jordan Pretorius (s.16): verspring – 6,43m (790)
Ryno Meyer (s.19): gewigstoot – 13,68m (753)
Vaughn van Zyl (s.16): skyfwerp – 44,46m (797)
Ruben Lorist (s.19): skyfwerp – 39,05m (758)

As hierdie spog-vertonings in oënskou geneem word, kan daar gewis reikhalsend na NHS se eerste jaarlikse tuisbyeenkoms van Saterdag 28 Januarie, uitgesien word. Sterkte aan al ons atlete en hul bekwame afrigters met die week se voorbereidings!

Dankie aan BUCO Nelspruit wat hierdie byeenkoms geborg het.
Foto’s: HH Photography & Design
Artikel: Mnr. Kobus de Wet