26 May Kersfees-in-die-Winter-liefdadigheidsprojek
Dis winter in die Laeveld en Kersfees in NHS!
Die Nellies woeker met die jaarlikse Kersfees-in-die-Winter-liefdadigheidsprojek wat poog om soveel moontlik nie-bederfbare produkte, komberse, klere en skryfbehoeftes in te samel. Naomi van der Nest (Dux) is aan die stuur van hierdie groot projek en vra leerders en ouers om betrokke te raak. “Enige skenkings sal opreg waardeer word! ‘n Ou kombers kan ‘n groot verskil maak in ‘n arm mens se winter. Skenkings kan in die gemerkte bokse in die vierkant gesit word,” sê Naomi.
Die week gaan eindig op ‘n hoogtepunt met nog ‘n insamelingsveldtog. Kaalvoetdag is tradisioneel die dag waar NHS se leerders aangemoedig word om ‘n paar skoene te skenk. Die leerders kom Vrydag kaalvoet skool toe in medelye met die mense wat nie skoene kan bekostig nie. Stuur asseblief al u skoene wat te klein is skool toe! Na afloop van die insameling word hierdie bakkievrag skoene geskenk aan ‘n instansie in die gemeenskap. Hou NHS se sosiale media dop vir die oorhandiging van die skenkings.