
15 Dec Kersfeesboodskap deur me. Elize Stidworthy
Elkeen van ons is in ’n bepaalde seisoen besig om ’n storie met ons lewens te skryf…
sommiges trou amper
sommiges se kinders raak verloof
sommiges word oupa en ouma
sommiges se kinders gaan hoërskool toe
sommiges wag vir ’n nuwe lewetjie
sommiges pak op om ander horisonne te soek
sommiges het verlies gely
…en so leer ons bymekaar, want yster slyp yster en ons gee vir mekaar telkens nuwe betekenis aan geloof, hoop en liefde…
Maar saam met Desember is daar iets anders in die lug…’n verwagting…’n afwagting…
’n Redder is gebore vir my en jou…’n Redder wat jou naby aan sy hart wil hê.
Verlede jaar het ’n klein-dogtertjie-droom van my waar geword toe ek die voorreg gehad het om in ’n yskoue, asemrowende dorpie, Killarney, in Ierland Kersfees te vier. Daar in die blinkliggie-strate met elke hoekie en draaitjie wat Kersfees roep, het ek in die Metodistekerk ’n sprokiekerssangdiens beleef en die ware boodskap van Kersfees het in my hart kom nesskrop. Kore met engelstemme het Jesus in my lyf ingenooi.
My Kersfeeswens vir jou is dat jy jou drome sal afstof, dat dit blinker sal blink as kersversierings en mag die Ster van vrede in jou huis kom waak…
Ek bid graag vir jou ’n vertaalde gebed vanuit die kerk in Ierland:
Here, Desembermaand is ek-het-genoeg-gehad-maand.
Ons is moeg, Heer, van mense en wêrelddinge…
Van probleme en krisisse…
Dit is bevrydend, Heer, dat U ons hier in moegwees kom haal, dat U ons Vader is al is ons moeg.
Dankie dat U ons nou tot stilstand dwing en ons gees vul met U Heilige Gees sodat ons vernuwe kan word… sodat ons U stem kan hoor… weer in pas kan kom met U hartklop. U nooi ons om genoeg van U genadewater te kom drink, U rivier van liefde vloei deur elke seisoen van ons lewens.
Bring ons terug, Heer, op die voorspoedpad wat U vir ons beplan.
O Heer, sodat ons hoop mag hê vir ’n toekoms…
U bestemming, Jesus, was die kruis.
U doel is ALTYD liefde.
Gee vir ons, Heer, ’n Kersfees met U alomteenwoordigheid in ons huise.
Amen.