13 Apr King Price nou Rhinos Rugby se titelborg
Die geesdrif van die wintersport is aansteeklik lekker na die twee jaar se stilte op die bane en velde van NHS. Spelers kry weer die geleentheid om kompeterend deel te neem en opgewonde ondersteuners sit weer die pawiljoene vol.
Daar is egter nog ‘n rede vir NHS se Rhinos Rugby om breed te glimlag. Die Rhinos soos wat NHS se rugby bekendstaan, word hierdie jaar deur King Price geborg.
Die King Price handelsmerk is in Junie 2012 deur mnr. Gideon Galloway (Oud-Nellie) gestig en sedertien het hierdie versekeringmaatskappy een van die mees herkenbare handelsmerke in Suid-Afrika geword. Die sukses van hierdie besigheid kan aan harde werk, deursettingsvermoë en kreatiwiteit van die uitvoerende hoof, mnr. Galloway, toegeskryf word.
Mnr. Hennie Skorbinski (Direkteur van Rugby) sê dat dit vir die Rhinos ‘n groot voorreg is om hierdie handelsmerk as borg te hê en voeg dan by: “Dit is die eerste keer in NHS se geskiedenis dat ‘n maatskappy al die rugbyspanne – van die o/14’s tot die eerstespan borg.”
Die Rhinos, net soos King Price, glo dat jy deur harde werk en toewyding jou doelwitte kan behaal.
Ondersteuners word hartlik uitgenooi om NHS se wintersportdae by te woon. Die Nellies speel 23 April teen Monnas, 14 Mei teen Zwartkop, 21 Mei teen Hoërskool Middelburg en 28 Mei teen Montana.
Die wedstryde word ook op SuperSport Schools se toep gebeeldsend.