Klas van 2019 onthul nuwe tradisie

Klas van 2019 onthul nuwe tradisie

Die matriekklas van 2019 het vir oulaas saam met die Nellies saalopening bygewoon. Tydens die geleentheid is die tradisie wat die matrieks van 2018 begin het, voortgesit en daar is ook ‘n splinternuwe tradisie begin. Die twee hoofleiers, Mia Schmidt en Reuben van der Merwe, het ‘n pragtige ghong aan die skool oorhandig. ‘n Ghong is ‘n Oos-Asiatiese musikale slaginstrument wat die vorm van ‘n plat, sirkelvormige metaalskyf het wat met ‘n hamer getref word. Dit het sy oorsprong in China en het later versprei na Suidoos-Asië.

‘n Ghong produseer twee verskillende tipes klanke. Arno Marais het hierdie ghong gemaak en vir die leerders die unieke klanke demonstreer. Hierdie ghong is met trots geborg deur Neofresh. Die ghong gaan gebruik word tydens saalopeninge. Na afloop van die saal het die leerders en graad 12-onderwysers ‘n erewag gevorm tot by die gebied wat die Vinculum-projek huisves. Die matrieks het vir oulaas deur die saal geloop tot by die Vinculum en elkeen het sy of haar slot met sy of haar naam op aan die ketting van die 2019- jaargroep vasgesluit. Hierdie jaar se slotte is geborg deur BUCO Nelspruit. Dit was ‘n baie spesiale geleentheid wat vir nog lank deur die groep onthou gaan word.