Klopdisselboom met kurrikulum by NHS

Klopdisselboom met kurrikulum by NHS

‘n Skool is ‘n gebou met die toekoms daarbinne. Aangesien NHS se klaskamers vol van ons land se toekoms sit, is die skool genoodsaak om ook op tegnologiese gebied by te bly.  Aan die einde van 2019 is veseldatalyne op die skoolterrein geïnstalleer en die beplanning was om die e-leermodel in 2021 bekend te stel. Die kool was beslis die sous werd aangesien die staat van inperking die skool genoodsaak het om voor die beplande tyd met afstandsonderrig te begin.

Nellie-personeel het nie op hul louere gerus tydens die staat van inperking nie en NHS het vanaf 31 Maart oorgeskakel na afstandsonderrig op verskeie platforms soos Google Classroom, WhatsApp-klasgroepe, Zoom-lesse en stemposboodskappe. Die NHS YouTube-kanaal word ook gebruik om opvoedkundige beeldmateriaal aan leerders te verskaf. Die Nellies is besonder bevoorreg om op datum te wees met die kurrikulum aangesien NHS-personeel die ekstra myl gestap het om die leerders akademies aan die werk te hou.

Drieduisend-en-vyftig plasings in die inperkingstyd op Google Classroom alleen is ‘n bewys van hoeveel murg daar in die Nellie-onnies se pype is. Nuwe vaardighede is aangeleer wat goud werd is vir die toekoms. Verskeie vakpersoneel was ook betrokke met die aanbied van lesse wat op Radio Laeveld en Radio Kragbron uitgesaai is.

Afstandsonderrig verg uiterse dissipline en selfwerksaamheid van die leerders en die ouers het ‘n groot aandeel om hierdie moeilike 2020-akademiese wa deur die drif te trek. Ouers is deur middel van e-posse genooi om betrokke te raak op Google Classroom en kon kies om die vordering van hul kinders dop te hou.

Die beskikbaarheid van data was vir sommige leerders ‘n uitdaging, maar met die infassering van die verskillende grade is die leerders se selfone deur die skool se WiFi met Google Classroom en die ander platforms verbind. Enige leerder kan, sonder om persoonlike data te gebruik, op die skoolterrein toegang tot hul skoolwerk kry.

NHS het weereens bewys dat dit ‘n skool is met ‘n plan vir môre.

Die onderwysers het ook vinnig aangepas by die nuwe normaal. Me. Retha Smit sê: “Verligting het my oorweldig toe die graad 12’s uiteindelik weer voor my klas aangetree het, gemasker en effe onseker. Dit was so goed om my oggend-kinders weer te sien. Ek kon sien dat daar maar ‘n ongemaklikheid was oor hoe ons nou hierdie koddige Zorro-situasie moet hanteer, maar toe ons rustig begin werk het, het die heerlike bekende op ‘n nuwe manier gou-gou posgevat. Nee wat, hef aan, ons is op pad eindeksamen toe!”