
28 Apr Landlopers oefen fluks gedurende inperking
Gedurende die inperkingstyd het mnr. Charl en me. Martie Naude nie stil gesit nie. Die twee NHS-landloopafrigters het al drie inperkingslandloop-wedlope gereël en voltooi. Op Saterdag 25 April het die derde landloopwedloop, bekend as die NHS-“lockdown train race”, plaasgevind. Verskeie spanne plaaslik en sover as Viëtnam en Namibië het aan die opwindende wedloop deelgeneem. Elke span, bestaande uit nege lede, het die volgende afstande kafgedraf: 3km, 5km, 6km, 8km, 8km, 8km, 10km, 10km, 12km. Die onderskeie spanne: Power Team, Rona Runners, Stokker, Peanut butter and jelly legs, Kamakazies, CEE & Run, Internationals en Team Lockdown het mekaar vroeg Saterdag-oggend die stryd aangesê.
Dit was uiteindelik Team Lockdown wat met die louere weggestap het met ‘n wentyd van 5:04.
Mnr. Charl Naude moedig alle landlopers aan om tydens die inperking te oefen. Sy advies is om lang asemoefeninge op ‘n bepaalde tyd elke dag te doen – ongeag die gegewe spasie. Hy beveel ook kragwerk aan. Lekker oefen en bly gesond!