Madelie Brand geskryf deur Wessel Pretorius

Madelie Brand geskryf deur Wessel Pretorius

Geniet hierdie kortverhaal geskryf deur Oud-Nellie, Wessel Pretorius (2004).

Madelie Brand
Geskryf deur Wessel Pretorius

Madelie Brand het groot drome vir haarself gehad. Sy het Drama gaan swot met die hoop om eendag Pippa se bose stiefsuster in Binneland te speel. Madelie kon on cue huil en van Shakespeare sonette kan jy haar niks vertel nie. Na haar studies het sy ‘n Onderwysdiploma vir die wis en die onwis verwerf. Deels as vangnet, wat sy regtig nie geglo het sy gaan nodig hê nie, maar ook om haar pa gerus te stel en haar ma se gebede te verhoor. Die bedryf is taai en na die derde oudisie vir seksie verpleegster nommer drie, het sy die handdoek ingegooi. Haar familie was verlig, haar kêrel minder bedreig en haar kredietkaart kon asem skep.

Madelie gee nou al vir ‘n volle jaar Engels by ‘n publieke Afrikaanse skool waar sy, teen haar sin, ook netbal afrig vir ‘n hopelose C-span.  Wat die groepie te kort kom in talent maak hulle voor op in entoesiasme. Genadiglik kon niemand al agterkom dat Madelie minder van netbal hou of weet as die swakste skakel in haar kroos nie.

Madelie staan elke oggend vroeër op as haar gesig en drink drie sterk koppies koffie vir moed en terapie. Voor sy haarself kon keer het Madelie se klerekas begin lyk soos haar ma s’n. Jy sou 2012-Madelie nie dood vang in ‘n K-way baadjie, Green Cross loafers en driekwartbroek nie. Madelie was vreeslik geheg aan haar Jennifer Aniston hare totdat ‘n mislike seun in haar klas gesê het sy lyk eerder soos Harry Styles wat ‘n ongeluk gehad het met ‘n GHD. Nou dra Madelie haar kapsel kort met ligte strepe om haar vroulikheid te ondersteep. Sy het Dead Poet Society en Dangerous Minds verwag toe sy begin het. In haar geestesoog kon sy sien hoe kinders blinkoog by haar klas uitstap met ‘n nuwe liefde vir poësie. Die koue werklikheid was egter ‘n klaskamer vol warrelende hormone, aandag afleibaarheid en die reuk van te veel AXE-bodyspray. In die begin het sy lesse voor haar spieël geoefen, gedroom van staande ovasies en trane van insig. Nou is sy net te bly as iemand nie geslagsdele teen haar bord teken voor sy inkom nie. Madelie het ook die kompleksiteit van liefde ontdek deur onderwys. Hoe is dit moontlik dat jy iemand wil verwurg en koester tergelyketyd? Daar is altyd ‘n Rassie of Fanie of Koert wat kliphard windbreek in die klas en dan ‘n buiging neem. Daar is altyd ‘n Michelle of Ciara of Mia wat dink sy’s ‘n Kardashian, verslaaf is aan haar Instagram rekening en jou met ondeurdringbare verveeldheid aankyk asof jy uit ‘n ander millennium dateer. Voorheen het Madelie pouses in die personeelkamer se badkamer gaan huil, maar vandat sy tot die skokkende besef gekom het dat al haar kollegas kamerade in dieselfde oorlog is, skinder sy lekker oor ‘n koppie tee oor langpouse. Sy het selfs simpatie vir die antieke Aardrykskunde-meneer wat sy broek onder sy oksels dra.

Tussen al die vreemde walms, terugpratery, dooie oë en onder die belt grappe, sit daar egter elke jaar ‘n handjievol sade wat smag na inspirasie. Party dae kan sy sien hoe ‘n gedig iemand se siel onomwonde oopvou. Tusssen al die Youtube videos en TikTok manewales absorbeer hulle wel insig tot die hart. In haar af periode sit Madelie moedeloos en toetse merk toe sy op een van die Rassies se opstelle afkom wat lui: Da girls don’t smaak me because they knows my dads a plumber but what they doesn’t know is a rose by any other name would smell as sweet.