Mevrou Suid-Afrika besoek Huis Maré

Mevrou Suid-Afrika besoek Huis Maré

Die dames van Huis Maré het op Donderdag, 12 Maart ‘n heerlike aand saam met ‘n voormalige Nellie en nou die huidige Mevrou Suid-Afrika, me. Jacqueline Ferns, geniet. Me. Ferns het in 2005 by NHS gematrikuleer en het daarna haar graad in kriminologie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Sy is ook ‘n entrepreneur en besit drie besighede. Hierdie dinamiese vrou het die dames van Huis Maré opnuut laat dink en geïnspireer oor wat dit is om ‘n vrou te wees. Die graad 12’s het na afloop van die praatjie die geleentheid gekry om in die Melkweg nog ‘n bietjie saam met haar te kuier.

Vir me. Ferns was dit net so spesiaal om terug te keer na haar alma mater. Sy koester nog baie goeie herinneringe wat sy saam met vriendinne in Huis Mare gemaak het. Sy is ook baie beïndruk met die nuwe toevoegings by NHS soos die Kultuursentrum, wat nou pryk op ‘n gedeelte wat net terasse was.

Sy het tuis gegaan by twee oud-Nellies, Jan en Michelle van der Merwe, se gerieflike Execustay Boutique Guesthouse. NHS bedank hulle graag vir hulle gasvryheid en ondersteuning.

Dit is vir die skool ‘n voorreg om oud-Nellies terug te verwelkom. Oud-Nellies word aangemoedig om aan te sluit by die Nellies-portaal: https://nellies.alumnet.co.za en word deel van die groter Nellie-gemeenskap!

 

Me. Jacqueline Ferns en me. Elize Stidworthy