25 Oct Mpumalanga Muurbalinterhoër
NHS se muurbalspanne het op 16 Oktober aan die Mpumalanga Muurbalinterhoër deelgeneem.
Dit was ‘n voorreg om weer op ‘n kompeterende vlak sport te kon beoefen. Eerstespanne van regoor die provinsie en selfs so ver as Groblersdal het by Van Riebeeck-muurbalbane in Nelspruit gestoei om as kampioene van die provinsie gekroon te word.
Die kompetisie was straf en NHS se jong eerstespan het hulself oortref om ‘n algehele tweede plek te behaal deur in die finaal 2 wedstryde teenoor 3 teen Hoërskool Middelburg te verloor. Hoërskool Secunda het in die derde plek geëindig. NHS se eerstespan bestaan uit een graad 10-speler, twee graad 9’s en twee graad 8’s. Dit is nog ‘n jong span en baie word van hulle in die toekoms verwag.
Die tweedespan het in Middelburg mekaar die stryd aangesê. Dit was gekombineerde dogters- en seunspanne. Die deelnemende skole was NHS, MHS, HTS Middelburg, HTS Witbank en Groblersdal.
Die Nellies het as uitnodigingspan hul goed van hul taak gekwyt en in die eerste plek geëindig. Die toernooi het baie vir die spelers beteken en hulle het baie goeie ondervinding opgedoen. NHS sien alreeds uit na 2022 se muurbal.