26 Jul ‘n Tyd vir omgee
Omgee was nog altyd ‘n ononderhandelbare saak vir Hoërskool Nelspruit. NHS se ouers, leerders en personeel het vanjaar weereens bewys dat hulle vir mense in nood omgee deur groot skenkings vir Naomi van der Nest en Ruben Gründlingh (Dux’e) se Kersfees-in-die-Winter-liefdadigheidsprojek te maak. Hierdie skenkings is geneem na sewe verskillende instansies wat groot nood ervaar. Baie dankie aan elkeen wat nie-bederfbare produkte, komberse, klere en skryfbehoeftes geskenk het. Dit het ‘n groot verskil in ons gemeenskap gemaak in ‘n tyd waar daar nou meer as ooit, ‘n groot behoefte is om mekaar te ondersteun en te bemoedig.
NHS se graad 8’s het nie op hulle laat wag nie en die gesondheidswerkers van Themba-hospitaal met ‘n bederfpakkie geseën. Die Verteenwoordigende Leerderraad (Henko de Nysschen, Janica Slabber en Ruben Gründlingh) het hope skoene met die tradisionele Kaalvoetdag ingesamel. Hierdie skoene is aan die Matsafeni-gemeenskap geskenk.
Gedurende die derde kwartaal beoog die skool om na ons vriendskapskole in Ehlanzeni uit te reik om die matrikulante moed in te praat voor die rekordeksamen. Personeel en leerders gaan ook uitreik na ‘n buurskool om hul 67 minute vir Mandeladag te gee. NHS skop dus hierdie kwartaal af met ‘n hart vol omgee en hoop om ‘n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.