Natgeorisme-klub besoek nog ‘n Wêrelderfenisgebied

Natgeorisme-klub besoek nog ‘n Wêrelderfenisgebied

Die Natgeorisme-klub het die bekende Sterkfonteingrotte asook die Maropeng-museum naby Krugersdorp op 1 Mei besoek. Maropeng is as ‘n Wêrelderfenisgebied verklaar en staan bekend as: “Die Wieg van die Mensdom.” Daar word gesê dat die meeste paleo-ontropoloë taamlik seker kan wees dat hulle in hulle hele loopbaan nooit op so ‘n menslike fossiel sal afkom nie. Prof. Lee Berger (Suid-Afrikaner van die Universiteit van die Witwatersrand) ontdek verskeie nuwe fossiele in die Sterkfontein-gebied wat groot opslae wêreldwyd maak – baie gespesialiseerde wetenskaplikes oor die wêreld stroom na die Sterkfonteingrotte en omliggende gebiede om die vondste te aanskou.

Prof. Berger en sy seun ontdek in 2008 Australopithecus sediba (Karabo) wat sonder twyfel die volledigste skelet van hierdie ouderdom is wat nog ooit gevind is. Die vorige fossiel, mev. Ples, is in 1947 deur Robert Broom by die Sterkfonteingrotte ontdek.
Die leerders het hulle besoek met ‘n fassinerende museumvertoning wat ‘n verskeidenheid onderwerpe dek van grotformasies en geologie, vroeë lewensvorme, soogdiere en hominied fossiele begin. Daarna is hulle deur die grot begelei. Naas die ses kamers wat deur gange verbind word, is daar ook ‘n helder, ondergrondse meer 40m laer af, aan die einde van die grot.
Die uitstappie het met ‘n voetpaadjie na die opgrawingsterrein waar wetenskaplikes van die Universiteit van die Witwatersrand verder werk om meer fossiele te vind, geëindig.