Nege medaljes vir NHS-atlete by SA-skolekampioenskappe!

Nege medaljes vir NHS-atlete by SA-skolekampioenskappe!

Daar is allerweë verwag dat Hoërskool Nelspruit se ster-atlete met ‘n madalje of drie van 2022 se nasionale skole-byeenkoms sou terugkeer huis toe, maar selfs die grootste optimis, het nie iets soos ‘n nege-tal medaljes in die vooruitsig kon stel nie! Dit was voorwaar ‘n skitterende vertoning – en die Nellies-familie is baie trots op wat hierdie klompie uitblinkers en hul toegewyde afrigters, vermag het! Die byeenkoms het vanjaar van 16 tot 18 Maart, in Germiston (Gauteng) plaasgevind.

Ashley Erasmus (m.17) was weer, soos by al die voorafgaande byeenkomste vanjaar, die bestendigheid self. Sy word SA se 2022-skolekampioen in gewigstoot (18,41m) EN in skyfwerp (48,52m). Om die kroon te span, verdien Ashley de maksimum van 1000 ASA-punte met elk van die twee vertonings, wat aan haar die trofee as beste veldatleet vir 2022, besorg – welverdiend! Sy was ook die enigste atleet wat in twee items, die voltal kon haal.

Wat ‘n skitterblink item was die hoogspring vir meisies 17 nie! Die interessante tweestryd tussen NHS se Shanese de Clerck en Rob Ferreira se Caitlin Dehrman, is tot op nasionale vlak gevoer. Caitlin het op haar beste hoogte (1,70m) geslaag, wat opsigself ‘n uitstekende vertoning is. Maar, Shanese het die stang stewig vasgebyt en met ‘n puik 1,75m (910), word sy ook vanjaar ‘n skolekampioen! Haar wenhoogte is ook ‘n nuwe Nellie-rekord, 4cm hoër as die 1,71m waarop Thelma van Rensburg in 1999 geslaag het. Die Laeveld kan met reg baie trots op Shanese en Caitlin wees!

Benewens bogenoemde drie goue medaljes, het NHS se atlete ook nog vyf silwermedaljes ingeoes.

Nadat hy bitter na aan ‘n medalje in die 110m hekkies (s.19) met ‘n tyd van 14.60 sek. gekom het, het Handré vd Merwe pragtig sterk in die 400m hekkies genael, om in ‘n blink tyd van 53.01 (928 ASA-punte) tweede in die finaal te eindig. In die halfeind, het hy sy uitdun in ‘n goeie 53.81 (889) gewen, nadat hy vroeër in die halfeind van die 110m hekkies, met ‘n uitstekende 14.48 (873) die oog gevang het.

Simoné Lourens, Sheba Sithole en Zoë Cilliers, , was almal lede van Mpumalanga se span vir die sg. ‘medley relay’, waar die vier atlete agtereenvolgens ‘n 400m, 300m, 200m en 100m moes hardloop. Mpumalanga slaag daarin om tweede verby die wenstreep te blits, wat dus drie silwer medaljes vir Nellies beteken het.

Silwer nr.5 was eweneens welverdiend, toe NHS se André Potgieter (s.19), wat met sy 10.71 sek. (830) in die finaal van die 100m met ‘n vierdeplek tevrede moes wees, lid was van Mpumalanga se 4x100m aflosspan wat met ‘n tyd van 41.82, tweede geëindig het. André het ook in die 200m uitgeblink, toe hy met ‘n stewige 21.76 (815) vir die finaal gekwalifiseer het. Daar, was hy vyfde met ‘n tyd van 22.04.

Om in jou eerste jaar in die hoërskool (nog m.14) vir die provinsiale span as onder 15- atleet gekies te word, is ‘n groot prestasie. Om dan op die koop toe nog TWEE medaljes op SA’s los te hardloop, wil gedoen wees! Baie geluk aan Zoë Cilliers, wat silwer (reeds genoem), en brons (in die 4x100m aflos vir meisies 15) verower het.

Die 13-jarige Chané Nel (ook nog in gr.8, en nog m.14), het teen die bestes in die Republiek, in ‘n hoër ouderdomsgroep, uitgeblink. Chané het vanjaar in al die byeenkomste waaraan sy deelgeneem het, meer as 800 punte in gewigstoot en skyfwerp verdien – werklik besonders! Op Germiston was haar afstande 12,74m (874) met die 3-kg gewig (‘n pb), en 32,61m met die 1kg-werpskyf (812).

Lig die hoed ook hoog vir Marco Capazorio, wat in die afdeling vir seuns 19, in beide die kort- en langhekkies, vir die finaal gekwalifiseer het. Hy het telkens ‘n vyfdeplek verwerf, en baie goeie tye aangeteken. In die 110m hekkies was sy tyd 14.71 (851), en hy het die moordende 400m hekkies in ‘n blink tyd van 54.89 (842) voltooi.

Nog stewige NHS-vertonings:
Sheba Sithole (m.15): 800m – 2:20.24 (850). Sy was 8ste. Haar uitdun-tyd was 2:19.37 (875)
Anja Venter (m.17): skyfwerp – 38,12m (868)
Juané le Roux (m.15): skyfwerp – 30,41m (775)
Liemoni Joubert (m.15): driesprong – 10,14m
Rejandi Coetzee (m.15): hoogspring – 1,54m (710) 8ste
Joshua Fincham (s.15): 1500m – 4:24.74 (794) 8ste
Vaughn van Zyl (s.15): spiesgooi – 46,44m (7e) en gewigstoot – 15,40m (856) 9e
La-Alizia Venter (m.19): gewigstoot – 10,46m (797)
Christine Venter (m.17): gewigstoot – 11,61m (803)
Jacques Bouwer (s.15): spiesgooi – 43,79m  8ste
Janco Small (s.15): verspring – 5,85m

Artikel: Mnr. Kobus de Wet