Nellie-atlete, afrigters en toeskouers is slaggereed vir Inter

Nellie-atlete, afrigters en toeskouers is slaggereed vir Inter

Die Nellies is slaggereed vir die 71ste Nelspruit MediClinic Laeveld Interhoër wat op Saterdag, 22 Februarie te Hoërskool Bergvlam plaasvind.
NHS se atlete oefen al vir ‘n geruime tyd baie hard. Die voorseisoen het weggespring met 80 atlete wat ‘n oefenkamp bygewoon het. Na afloop van die Buco Interhuis, is daar ernstig gefokus op tegniek en presisie voor die eerste vriendskaplike tuisbyeenkoms.

Daarna volg die Twizza-finaal, Kringbyeenkoms, die Noordheuwel Top 15, Puma School of Speed en Helpmekaar College se Goue Liga-byeenkoms. Tydens hierdie byeenkomste het verskeie atlete puik vertonings gelewer, onder andere Zander van der Merwe wat by die Twizza-finaal s.19 in spiesgooi ‘n afstand van 68,5m gooi, die beste prestasie van die dag vir ‘n velditem.

Dan was daar Ashley Erasmus wat by die Noordheuwel Top-15 ‘n nasionale beste afstand van 15,96m (gewigstoot) en 45,83m (skyfwerp) behaal. Shanese de Clerck het ook ‘n blinknuwe rekord van 5,40m in verspring opgestel tydens die vriendskaplike tuisbyeenkoms. NHS-atlete moes uithaal en wys teen gedugte opposisie in Mpumalanga tydens die prestigeryke Puma School of Speed atletiek-reeks. Ook hier ryg die Nellie-atlete medaljes in.

Dié suksesse word toegeskryf aan harde werk wat deur die atlete en afrigters ingesit word.
“Harde werk word altyd beloon,” so sê mnr. Jaco van der Merwe, atletiek organiseerder van NHS.

Dit is baie duidelik dat die atletiekseisoen nou momentum kry en dat die toeskouers by vanjaar se Interhoër hulle kan regmaak vir puik atletiek. NHS neem 145 atlete en sowat 1 000 toeskouers na die geleentheid wat ‘n hoogtepunt op die Laeveld-gemeenskap se kalender is.

Die atlete en afrigters is ook baie opgewonde om deel te neem aan die NWU-Pukke Super 16 Prestige Interbyeenkoms Woensdag, 26 Februarie. Volgens mnr. Van der Merwe is dit baie belangrik dat die atlete soveel moontlik geleenthede en blootstelling gedurende die atletiekseisoen kry.

Op die vooraand van die Inter is almal dit eens – 2020 is die Nellies aan die brand!