Nellie-guts vir graad agts

Nellie-guts vir graad agts

NHS se splinternuwe graad 8’s het Maandag, 15 Februarie, met die intrapslag die kenmerkende Nellie-oorhempie ontvang.

BK-lede het die hempies uitgedeel en elke leerder het die geleentheid gekry om sy of haar naam op die hempie neer te pen. Hierdie hempies word nou gedra totdat hulle Nellie-guts toon en as volwaardige Nellies geag word. Volgens tradisie word die leerders in die verskillende interhuisspanne naamlik Trojane, Atheners en Spartane ingedeel.

Jaarliks sien die Nelspruit-gemeenskap hierdie geel, groen en rooi oorhempies en oud-Nellies dink met nostalgie terug aan hulle dae op die skoolbanke.  Hierdie hempies word gekoester en word jare daarna na reünies geneem wat die onthou-jy-nog-dit-en-dat-geselsies aanblaas. Wat ‘n voorreg as dié kleinood na 30 jaar nog pas!  Gedurende die Interhuis neem die ouer grade graag in hierdie hempies aan die dag deel.

Hier is drie Nellies in hul graad 8-oorhempies. Van links na regs: Clarissa Botha (voorheen in Laerskool Nelspruit), Tinyiko Mathebula (van Kaapmuiden) en Lourens van der Westhuizen (van Laerskool Drakensig).

NHS bedank graag die volgende borge:
LVM Makelaars
Laeveld Trekkers
Nashua
Minuteman Press
CK Embroideries
Chippos
Salsa Mexican Grill
DNATel