Nelliehart wys hoe warm NHS se hart  klop

Nelliehart wys hoe warm NHS se hart  klop

Jeandré Krafft, in graad 10, se droom om beter te kan sien is tydens ‘n onlangse saalopening bewaarheid. Hy het ‘n baie spesiale bril van mnr. Morné van der Merwe (Nelliehart-voog) en Xanthé Jacobs (Gr.10-Nelliehart-verteenwoordiger) ontvang.

Hier ontvang Jeandré Krafft sy bril van Xanthé Jacobs.

Jeandré is met Stargardt se siekte gediagnoseer en sukkel geweldig baie om te lees. Sy uitdagings om in ‘n gewone skoolopset te funksioneer was vir hom daagliks ‘n enorme struikelblok.

Stargardt’s is die mees algemene vorm van jeugdige maculêre degenerasie wat 1 uit 10 000 mense affekteer. Hierdie  genetiese oogsiekte affekteer die sentrale visie en die enigste opsie vir Jeandré is om ‘n baie spesiale bril te gebruik.  Voor hy die bril ontvang het, het hy foto’s geneem van die vergrote klaswerk met sy tablet wat hy dan maksimaal vergroot. Hy het net beperkte sig in sy linkeroog en die regteroog sien slegs ‘n swart kol.

Jeandré se Nellie-hart klasverteenwoordigers, Xanthé Jacobs en Tanya Pieterse, het hierdie nood en daaglikse stryd in eie geledere raakgesien en die skoolbestuur om hulp gevra.  Een van die waardes van Hoërskool Nelspruit – “NHS gee om” – word hier konkreet uitgeleef.

Xanthé rn Tanya het in 2020 met die fondsinsamelingsprojek begin en het R135 000 ingesamel – genoeg om dié gesofistikeerde tegnologiese wonderwerk te koop.

Jeandré en Xanthé Jacobs.

 

Hier is Jeandré gereed om wiskunde aan te pak. “Ek is baie dankbaar vir die bril! Dit  maak ‘n groot verskil,” sê Jeandré. Ek kan selfs op die bord sien!

Hier is Jeandré Krafft in die wiskunde klas met sy bril.

Tags:
, ,