Nellies behou Top 10 – posisie in Limpopo!

Nellies behou Top 10 – posisie in Limpopo!

Onder die meerderheid atletiekdeelnemers en entoesiaste, is die jaarlikse Elardus Erasmus – gedenk-byeenkoms wat deur H/S Hans Strijdom op Mookghopong (Naboomspruit) in verre Limpopo aangebied word, ‘n groot gunsteling. Dié skool se gunstige tartan- en ander geriewe, saam met die pragtige omgewing en rustige plattelandse atmosfeer, word gereeld deur tientalle skole vanoor die lengte en breedte van die ou Transvaal, geniet. Vanjaar was ‘n totaal van 32 seun- en 28 meisiespanne, op Vrydag en Saterdag 4 en 5 Oktober, in aksie.

Die Laeveld is deur NHS en H/S Lydenburg verteenwoordig, en beide skole het hul stemme goed dik gemaak! Uiteindelik eindig Nelspruit se meisies in ‘n uitstekende vierde plek (uit 28), terwyl die seuns twaalfde (uit 32) was. Gesamentlik, was die Nellies verheug om die ‘tradisie’ om een van die tien bestes van die byeenkoms te wees, te kon voortsit. Die voorste spanne op die punteleer, was: Zwartkop (17580); Prestige College (17293); Potch Gim (17048); Monument (16580); en dan NHS vyfde met 16466. Lydenburg se opmars, wat by vanjaar se interskole op Barberton maar alte duidelik was, is steeds op koers en hulle kan baie tevrede met ‘n goeie twaalfde plek (15156) voel.

Prestasies van 800+ op ASA se puntetabel, was algemeen onder Nelspruit se meisies. Dit was egter die onder 14 – atleet, Mia du Preez, wat die oë laat rek het, toe sy ‘n volle 930 punte vir haar puik 13,82m in gewigstoot, verwerf het! Sy spog ook reeds hierdie seisoen met 33m in skyfwerp, en is duidelik op pad om vir nog groter vuurwerke in die worpe te sorg.

Wat die seuns betref, staan die naam van Menzi Shiba (s.16) bo-aan die NHS-lys van beste prestasies. Hy nael die 110m hekkies in ‘n goeie 14.38 en verdien daarmee 870 punte.

Van hekkies gepraat: Met die skitter-prestasies van die hekkies-‘tweeling’, Handré vd Merwe en Marco Capazorio, nog vars in die geheue, blyk dit dat NHS wéér ‘n soortgelyke ‘tweeling’ oplewer! In die afdeling vir seuns 15, het Rhandzu Mkhabela en Aldo van Jaarsveld, gewis beïndruk toe hulle in die 100m hekkies, in onderskeidelik 13.70 en 13.81 verby die wenpaal geblits het. Puik tye, so vroeg in die lente!

Neem verder ook gerus kennis van die 14-jarige Leney Maree se ‘vegtersbeurt’ in die 1500m vir m.14. Haar mooi tyd van 4:57.81 in ‘n wedloop waarin vier meisies onder 5 min. gehardloop het, sal nog lank onthou word.

Ons lig die hoed hoog vir al die atlete wat tot die span se uiteindelik goeie posisie, bygedra het!

Die volgende uitslae (bo 800 punte werd) veral, maak ‘n mens trots verby:
MEISIES
Mia du Preez (m.14): gewigstoot – 13,82m (930)
Leney Maree (m.14): 3000m – 10:40.65 (893); ook 1500m – 4:57.81 (800)
Zané Nel (m.16): gewigstoot – 12,91m (866); ook skyfwerp – 37,93m (880)
Zoë Cilliers (m.16): 100m – 12.56 (854); ook 200m – 26.70 (809)
Chenade Botma (m.14): 100m – 12.80 (848); ook 200m – 26.54 (843)
Sheba Sithole (m.17): 3000m – 10:58.51 (837)
Marieke Wasserman (m.14): 90m hekkies – 14.97 (825)

SEUNS
Menzi Shiba (s.16): 110m hekkies – 14.38 (870)
Rhandzu Mkhabela (s.15): 100m hekkies – 13.70 (857)
Aldo van Jaarsveld (s.15): 100m hekkies – 13.81 (846)
Jacques Winterbach (s.14): gewigstoot – 14,50m (821)

Nog enkele goeie vertonings vir seker vermelding verdien:

Lana Theron (m.15): 100m – 13.37 (762); en 200m – 27.62 (771)
Juané (Lulu) le Roux (m.17): skyfwerp – 31,25m (760); en spiesgooi – 34,58m (717)
Sheba Sithole (m.17): 1500m – 5:00.92 (743)
Marieke Wasserman (m.14): 300m hekkies – 49.52 (795)
Jacques Winterbach (s.14): skyfwerp – 44,49m (781)
Menzi Shiba (s.16): 400m hekkies – 57.24 (752)
Anele Mkhonto (s.17): 800m – 1:57.54 (742)
Ethan Green (s.16): 400m – 52.77 (756)
Lomon Basson (s.16): 400m – 53.30 (740)
Wihan Grobler (s.14): gewigstoot – 12,06m (703)

Nou is dit volstoom voort! Mag eerskomende naweek se Top 30- byeenkoms op Potchefstroom, eweneens opwindende atletiek, met blink tye, afstande en hoogtes, oplewer.