Nellies debatteer ‘n hond uit ‘n bos

Nellies debatteer ‘n hond uit ‘n bos

Om die kuns van onvoorbereide debat as ‘n opwindende aktiwiteit te bemark het die Nellies se Debatsvereniging drie kompetisie-aande gereël. Dit het ook gedien as voorbereiding vir die Mpumalanga-ronde van Dink of Sink.

Ses lede van die Verteenwoordigende Leerderraad het die eerste geleentheid gehad om voornemende debatteerders te wys hoe hierdie tipe debat werk. Die debat is die Dink of Sink debat waar die twee spanne loot en kies of hulle inleidend of opponerend gaan praat. Die onderwerp word dan bekend gemaak en die spanne kry 5 minute om hulle drie argumente in ‘n toespraak te verwerk.  Elke lid van die span lewer dan ‘n 2½ minuut toespraak, waarop die ander span op hul beurt aanval en verdedig en hulle span se argumente voorhou.  Na al ses sprekers met hul toesprake klaar is, volg daar ‘n 7 minuut debatsgesprek waar die spanne mekaar bestook met vrae om hul kant so duidelik as moontlik te bewys.

Die eintlike kompetisie het op 13 April tussen Huis Hermann Davin en Huis Maré begin.  Die dames het die manne die loef afgesteek en naelskraap gewen. Lanika Leuvennink, Katrien Hiemstra en Gabi van der Merwe van Huis Maré het in die finaal deelgeneem teen die dorpspan se Erika le Roux, Sumi Naude en Teneil le Roux.  Die onderwerp vir die debat wat op 20 April plaasgevind het, was dat alle hoërskoolmeisies ‘n verpligte kursus oor hoërskoolseuns moet bywoon. Hier het die dorpspan met die louere en kontantpryse weggestap.

Nellies bied ook vanjaar op 14 en 15 Mei die ATKV-Debat se Mpumalanga/KwaZulu-Natal ronde aan.  Elf spanne gaan ook op 29 Julie vir die eerste keer aan Con Spirito debat by Helpmekaar Kollege deelneem.