Nellies se atlete vaar uitstekend in Limpopo!

Nellies se atlete vaar uitstekend in Limpopo!

Die jaarlikse Elardus Erasmus Top 20 byeenkoms wat die afgelope naweek van 4-5 Oktober oudergewoonte op Mookgophong plaasgevind het, sal sekerlik onthou word as die byeenkoms waartydens die 14-jarige Ashley Erasmus van NHS, die rekordboeke herskryf en met ongekende prestasies vorendag gekom het! Sy is baie goed deur haar spanmaats ondersteun, wat uiteindelik gelei het tot die meisies van NHS se 10e posisie (uit 52 deelnemende spanne). Die seuns het ook baie goed gevaar, deur algeheel 17e (uit 54 seunspanne) te eindig.

Ashley se skyfwerp-afstand van 44,50m (meisies 14) is meer as 4m verder as die Nellie-rekord van 40,07m, wat sy vroeër vanjaar op UJ se veld behaal het. Dit sou ook aan haar, die goue medalje op vanjaar se SA Skole-byeenkoms besorg het! Maar, Ashley was nog lank nie klaar nie – sy stoot die 3kg-ysterbal ‘n ongelooflike 15,42m ver, op 7cm na ‘n volle meter verder as haar bestaande huishoudelike rekord! Dit is die verste gewigstoot-afstand wat enige Laeveld-meisie nog ooit kon vermag (alle ouderdomsgroepe) – en ook heelwat verder as vanjaar se wenafstand in Port Elizabeth.. Haar ABSA-punte van 1450 (skyfwerp) en 1294 (gewigstoot), het ruim bygedra tot die eindtotaal van 9578 punte, wat die Nellies vir hul beste tien prestasies, bymekaar kon maak.

Die ander lid van NHS se ‘atletiek-tweeling’, Shanese de Clerck (ook onder 14), het eweneens geskitter, toe sy in hoogspring (1,65m – 1071 punte) en verspring (5,26m – 993) die oog gevang het. Elané van Dijk se verspring-rekord vir meisies 15 (5,31m, in 2007 opgestel) staan voorwaar op wankelrige bene!

Alhoewel Douw Kruger ‘n (vir hom) rustige dag beleef het, was sy gewigstoot-afstand van 18,60m (1081 punte) die beste prestasie deur ‘n seun van NHS. SA-kampioen Zander van der Merwe het in die spiesgooi (s.17) met ‘n puik wengooi van 69,52m (1025) getoon dat hy vanjaar die kroon as nasionale nr.1- spiesgooier in sy ouderdomsgroep, meer as waardig is. Die jonge Charles Nel (s.14) het verder vir een van die groot hoogtepunte gesorg, toe hy in die 100m hekkies, Van Reenen Kruger se Nellie-rekord wat op 13.97 sek. gestaan het, met ‘n blink tyd van 13.80 sek. uit die rekordboeke gevee het. Charles se ABSA-punt van 1063 het hom inderdaad na ‘n nuwe liga bevorder.  Ook Handré van der Merwe (s.15) was in die hekkies op sy stukke, toe hy in die 100m-wedloop (13.78 sek.) en 300m-item (39.89 sek.) telkens meer as 900 ABSA-punte verdien het. Die seuns teken uiteindelik 9381 punte vir hul 10 beste prestasies aan, vir ‘n gemiddeld van 938 – wat baie goed is!

Ander Nelspruiters wat daarin kon slaag om meer as 800 ABSA-punte te verwerf, was:
Philip Vogel (s.15): skyfwerp – 44,11m (849); ook hoogspring – 1,70m (864)
Ruan Pretorius (s.14): hoogspring – 1,65m (910)
Charles Nel (s.14): 300m hekkies – 42.39 sek. (836)
Lourens Potgieter (s.17): 100m – 11.26 sek. (850)
Douw Kruger (s.17): skyfwerp – 48,65m (845)
Frederik Nel (s.16): gewigstoot – 15,08m (870)
Jaytee Boers (s.19): 800m – 1:55.81 (873)
Henko de Nysschen (s.17): 400m – 50.81 sek. (851); ook 200m – 23.09 sek. (835)
Shana Scott (m.16): gewigstoot – 11,77m (827)
Anja Venter (m.14): skyfwerp – 31,69m (923)
Rhodé Nel (m.16): 100m – 12.51 sek. (914); ook 200m – 25.86 sek. (881)

Nou verskuif die atletiek-aandag na die Laeveld Ope kampioenskappe, wat eerskomende Woensdag (9 Oktober) aangebied sal word.
Prag-atletiek word in die vooruitsig gestel!